Ondersoek duur voort ná kapers 5-jarige doodskiet

Ditebogo ‘Junior’ Phalane (5) en sy pa, Ditebogo. (Foto: X/@Gift_Makoti_)

Die Soshanguve-gemeenskap is in rou gedompel ná die moord op die vyfjarige Ditebogo Phalane die afgelope naweek.

Klein Ditebogo is Vrydagaand in ʼn hospitaal dood nadat kapers kort tevore sy pa se bakkie geroof en die seuntjie geskiet het.

Gift Makoti, die gesin se woordvoerder, sê die familie is platgeslaan. Hulle het gevra vir ruimte om oor die dood van hul kind te treur en terselfdertyd ʼn beroep gedoen op enigiemand met inligting oor die voorval om na vore te kom.

“Ons bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning in hierdie moeilike tyd,” het Makoti gesê.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê die kaping het Vrydag omstreeks 22:00 plaasgevind.

“Na bewering het die pa [Vrydag] om 22:30 met ’n wit Toyota-bakkie by die huis aangekom toe die kind uitgegaan het om hom tuis te verwelkom.”

Masondo sê verskeie gewapende rowers het glo die Hilux gekaap en die vyfjarige seuntjie in die proses geskiet.

Ditebogo ‘Junior’ Phalane. (Foto: X/@Gift_Makoti_)

“Die seun is na ʼn hospitaal geneem, waar hy met sy aankoms dood verklaar is.”

Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.

“Die span werk onverpoos om die verdagtes op te spoor. ʼn Saak van moord en kaping is hangend.”

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, was een van diegene wat sy diepe medelye met die gesin betuig het. Brink het die familie Maandag by hul huis besoek.

“Dit is ʼn tragiese voorval. Ons besoek die gebied heeltemal te veel en hierdie voorval is van die ergste nóg. Die dood van ʼn kind is ondenkbaar. Ek het self twee kinders van my eie. Ons het geen woorde nie. Ons sal alles in ons vermoë doen om op die beveiliging van die paaie te fokus en dit te beveilig,” het Brink tydens die besoek gesê.

Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance, het ʼn beloning van R250 000 aangebied vir inligting wat lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van diegene betrokke by die voorval.

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, sou die familie ook Maandagmiddag besoek.

  • Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor die moord om die naaste polisiestasie of die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te bel.

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane het die familie Maandag besoek. (Foto: Cilliers Brink)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Ja, en nou spring al die politieke partye op die “bandwagon” en skreeu saam. Intussen, indien die regerende party EN die opposisie partye “ons” land se grense toe gehou het en na behore bewaak het, sou hierdie nie gebeur het nie. En natuurlik is ou Gayton Mackenzie voor in die koor met ‘n “beloning”, nes hy voor in die koor was met Joshlin Smit se saak.

Amelia ·

ek hoor wat jy se bolandse nooi is waar oor politieke partye stem 100% saam al wat my ongelukkig maak is n kind ek dink straf is te lig vir moordenaars

TRP ·

Wat ‘n mooi oomblik moes wees en sekerlik elke dag was, ‘n seun in opgewonde en liefdevolle afwagting op sy pappa, het ontaard in ‘n slegte herhinnering van moord. Hoeveel vrae en verwyt gaan hierdie arme pa nie deurgaan. Hierdie is so onnodig. Geen kind moet seer kry.

koos10 ·

Een moord is een te veel. In Pretoria is daar so 5 per dag, net jammer alle politieke partye en regerings is dood stil daaroor. Seker nie genoeg media dekking nie?

Leeubekkie ·

Dis so hartseer. Sterkte aan al die familie. So ‘n pragtige ou seuntjie, net weggeruk. ..

Ore ·

En steeds wieier die gemeenskap om die bendelede aan die kaak te stel. Dit is duidelik dat bendes/kapers geen gevoel vir niemand het nie.

Elizabeth ·

Al weer Gayton McKenzie wat die geld rondswaai. Dink hy waaragtig dit kan daardie pragtige seuntjie terugbring? Dink aan die ouers en families wat treur en hou op politiek-politiek speel.

Delia ·

@ Ore, dis nie so maklik soos om in jou gemeenskap te “klik” op mense nie. Jy word uitgehaal.

Jillian ·

Al wat hierdie land sal kan red is om die doodstraf terug te bring vir kriminele soos die en die wat nog omkopery ontvang om sake soos die te laat verdwyn. ‘n Oog vir ‘n oog. Riv mooie kind. Jammer jou lewe is so tragies korgeknip en jou familie moet nou vir die res van hulle lewe met die hartseer saam lewe.

lollapot ·

My gebede gaan uit na die ouers en familie van hierdie pragtige onskuldige kind. Mag die boewe gou gevang en baie lang tronkstraf kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.