Ondersoek gedoen ná man in tronk sterf

Johan van Niekerk. Foto: Verskaf

Johan van Niekerk. Foto: Verskaf

Die Polokwane-gevangenis is besig met ʼn ondersoek na die dood van Johan van Niekerk (78) wat op 16 Julie in die gevangenis gesterf het nadat hy na bewering maande lank versoek het om sy private dokter te sien.

Maroela Media het vroeër berig Van Niekerk se familie beweer dat hy maande lank probeer aansoek doen het vir toestemming sodat sy private dokter hom in die gevangenis kan kom besoek, maar dat beamptes van korrektiewe dienste alles in hul vermoë gedoen om die proses te vertraag. Julian Knight, Van Niekerk se prokureur, het vroeër aan Maroela Media gesê dat al sy briewe aan die gevangenisowerheid onbeantwoord gebly het.

Van Niekerk se familie dring nou daarop aan dat die departement van korrektiewe dienste (DKD) ʼn amptelike ondersoek doen om vas te stel waarom Van Niekerk nie toegelaat is om sy dokter te spreek nie en wie die beamptes is wat sy versoek geweier het.

Kenneth Mthombeni, die DKD se areakommissaris vir die Polokwane-bestuursgebied, het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn span is reeds aangewys om Van Niekerk se dood te ondersoek. “Wanneer ʼn oortreder in die gevangenis sterf, word die dood altyd ondersoek. Dit is beleid en word in elke geval gedoen waar ʼn persoon in aanhouding sterf. Mnr. Van Niekerk se dood word dus ook ondersoek. Hierdie ondersoek sluit noodwendig ʼn nadoodse ondersoek in,” het hy gesê.

Mthombeni het gesê die bewerings dat Van Niekerk se versoeke om sy private dokter te sien geweier is, ook ondersoek sal word. “Ek sal eers op hierdie aantygings kan kommentaar lewer wanneer die ondersoek afgehandel is, daarom kan ek nou nie veel sê nie. In hierdie stadium is ek nie bewus van enige briewe wat ons van mnr. Van Niekerk se prokureur ontvang het nie, behalwe een brief ʼn dag voor sy dood. Dit kan egter wees dat ek nog nie al die briewe gesien het nie. Dit sal tydens die ondersoek vasgestel word,” het Mthombeni gesê.

Knight het voorheen aan Maroela Media gesê Van Niekerk se vrou het twee dae voor sy dood ʼn oproep van ʼn beampte by die gevangenis gekry wat haar ingelig het dat die familie R5 417 sou moes betaal om die besoek van Van Niekerk se dokter te fasiliteer. Volgens Knight het hy ʼn brief aan die gevangenis geskryf om te vra wat presies die doel met dié bedrag is aangesien die dokter Van Niekerk by die gevangenis sou kom sien en Van Niekerk self vir die koste van die konsultasie verantwoordelik sou wees.

Mthombeni het egter gesê volgens sy inligting het Van Niekerk versoek om die dokter by sy spreekkamer te gaan sien en dat daar om die rede kostes aan verbonde is om hom daarheen te neem en bewaarders te stuur om hom te vergesel. “Volgens ons inligting het mnr. Van Niekerk se vrou tydens daardie telefoonoproep ingestem om die geld Maandag by die gevangenis te kom betaal, maar die volgende dag het hul prokureur ʼn brief gestuur om te vra waarvoor die geld is. Ons sal ook hieroor verder ondersoek instel,” het hy gesê.

Mthombeni het gesê sodra die ondersoek afgehandel is, sal die bevindinge daarvan bekendgemaak word. “Ek verwag binnekort ʼn verslag oor die ondersoek want ons beskou die saak ook as dringend,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jan maak n plan ·

Nou hoe kan diw DKD self so n ondersoek doen. Hulle gaan net al die bewyse weg gooi. Di geld was vir omkoop.

vermeende ·

Nee probeer n ander een. Watse kostes?
Onderhou die belastingbetaler dan nie die korektiewe stelsel nie, nou hoekom dan dubel betaal?
Ek sal graag wil sien hoe hulle die bedrag saam gestel het.

Pam ·

Mnr van Niekerk se familie moet hierdie spul lamsakke in Korrektiewe Dienste dagvaar dat die biesies bewe. Die briewe van die prokureur is seker vernietig. Hulle voel vere !

Michelle ·

Ons witmense is nou nie eers meer veilig in die tronke nie…..!!!

Koos ·

Ek stem hoe kan dit nou ‘n vrye en regverdige ondersoek wees as hulle skuld beken laat hulle hulself oop vir ‘n finansiële eis. Die gesin moet vra vir ‘n onpartydige ondersoek deur ‘n privaat maatskappy met geen verbintenis met die DKD of die staat

Basson ·

Dis eenvoudig – die aanvallers was pelle met die bewaarders?

Hannelie ·

Dit is omdat hy wit is, hulle gee niks om vir blankes nie. Dis mos hoe dit deesdae in Suid-Afrika werk. Die haat en rassisme.

Cherokee ·

Waarom was hy in ‘n tronk? Die bietjie wat ek gelees het, het dit laat klink asof hy ‘n vermeende/klaarblyklike stroper geskiet het en dat ‘n ondersoek hangende was. Dit het nie geklink asof hy skuldig bevind was nie maar dat ‘n ondersoek nie afgehandel is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.