
Die vlieënier moes ‘n noodlanding langs die N4 doen. (Foto: Hartbeespoort Emergency Medical Services (HEMS))
Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) stel ondersoek in nadat ʼn vlieënier Maandag ʼn noodlanding langs die N4 in die omgewing van Brits moes doen.
Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die owerheid, sê die vlieënier van Safari LSA was die enigste persoon aan boord toe hy kort nadat hy opgestyg het, ʼn noodlanding moes doen.
Die vlieënier het by die Kroon-vliegveld wes van Pretoria opgestyg en sou weer daar land.
Volgens Ledwaba is hy nie beseer nie.
“Die proses om getuienis in te samel het reeds begin en sal die grootte en omvang van die ondersoek bepaal, asook die tydraamwerk waarin die finale ongelukverslag afgehandel moet word.
“Dit is belangrik om te besef dat die ingewikkeldheid van ondersoeke kan verskil en soms geruime tyd kan duur om te voltooi,” het Ledwaba gesê.
Hy sê sou ʼn belangrike veiligheidskwessie egter in die verloop van die ondersoek aan die lig kom, sal alle belanghebbendes ingelig word sodat gepaste stappe gedoen kan word.