Ondersoek gedoen ná noodlyn vrou glo nie help

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

MTN Suid-Afrika het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat ʼn vrou se Facebook-inskrywing oor haar slegte ervaring met dié selfoondiensverskaffer se noodlyn meer as 12 000 keer op die sosialemediaplatform gedeel is.

Pam Green, ʼn vrou van Johannesburg, het Maandag op Facebook vertel hoe sy Vrydagaand op die N12 aan die Oos-Rand gery het toe sy ʼn skokvoorval in haar truspieëltjie sien afspeel het. “ʼn Vrou is uit ʼn bewegende motor gestamp. Haar slap liggaam het by die graswal afgerol en in ʼn hoop in die noodbaan te lande gekom,” het Green geskryf.

Sy vertel dat sy onmiddellik agteruit gery het om die vrou te hulp te snel. “[Die vrou] het geskree, nie van die pyn nie, maar uit vrees. ‘Hy gaan terugkom, ry! Hy gaan terugkom om my dood te maak!’,” het Green vertel. Sy vertel dat sy dadelik die polisienoodlyn 10111 geskakel het en gevra het vir polisiebystand en ʼn ambulans. Die operateur het egter vir haar gesê sy moet 112 bel om ʼn ambulans aan te vra.

Green het gevra dat die polisie dadelik iemand na die toneel toe stuur, voordat sy 112, MTN se noodlyn, geskakel het. Volgens Green moes sy vir twee minute lank luister na ʼn vooraf opgeneemde boodskap wat haar waarsku dat dit ʼn strafregtelike oortreding is om ʼn noodlyn te skakel indien jy nie regtig in nood verkeer nie.

Nadat sy uiteindelik by ʼn operateur uitgekom het, haar situasie verduidelik het en gevra het dat ʼn ambulans na hulle gestuur word, is sy net elke keer weer na ʼn volgende persoon deurgeskakel. Volgens Green moes sy die situasie aan drie mense verduidelik wat haar net elke deurgeskakel het na ʼn volgende persoon.

“Toe ek met persoon nommer vier praat, verduidelik wat gebeur het, gesê het ek kort ʼn ambulans en ons ligging en die vrou se beserings bevestig het, het die persoon weer gevra ek moet asseblief net aanhou. Ek het geskree en gevloek en my kop verloor en vir hom gesê ek sal nie aanhou nie, hy moet onmiddellik iemand na die toneel stuur. Ek was al agt minute lank met hierdie oproep besig. Ek het geskree dat sy gaan doodgaan en dat wie ook al dit gedoen het dalk gaan terugkom. Die [persoon aan die ander kant] het gesê, ‘Moenie op my skree nie’ en die foon in my oor neergesit.”

Green skryf sy was geskok om te besef dat die MTN Suid-Afrika-noodlyn se inbelsentrumagent ʼn telefoon in haar oor neersit omdat sy in ʼn lewensbedreigende situasie skree om hulp.

Volgens Green het daar kort daarna ʼn veiligheidswag van ʼn private veiligheidsmaatskappy langs hulle stilgehou en gevra of hy kan help. Die wag het by hulle gebly terwyl hulle weer 10111 geskakel het, want volgens Green het daar 30 minute nadat sy die eerste oproep gemaak het steeds nie ʼn polisiebeampte opgedaag nie.

Sy vertel dat sy uiteindelik, ná ʼn groot gesukkel, na ʼn kaptein in die blitspatrollie deurgeskakel is wat onderneem het om dadelik hulp te stuur. Binne oomblikke was twee brandweerwaens, ʼn ambulans, ʼn insleepvoertuig, twee blitspatrollievoertuie en vier speurders op die toneel.

Die ambulans het dadelik die vrou na ʼn hospitaal gehaas, terwyl die speurders ʼn verklaring by Green afgeneem het. “Die speurders het my gevra of ek weet wie dit gedoen het. Ek het gesê ja, dit was haar man. Die speurders het vir my gekyk, ophou praat en teruggestap na hulle motor toe. Ja, hulle het net gery,” het Green gesê.

“Ek voel dat ons nooddienste my heeltemal in die steek gelaat het. Nie die blitspatrollie of MTN Suid-Afrika se noodlyn was behulpsaam nie. Dit was ʼn volle uur voordat hierdie arme vrou mediese behandeling gekry het. Waar is ons respek vir mense se lewe?”

Volgens Green se inskrywing kon sy sedertdien nie weer die vrou in die hande kry nie en weet sy dus nie hoe dit tans met haar gaan nie.

Green se inskrywing op Facebook het egter wyd aandag getrek en onder die meer as 2 800 kommentare wat gelewer is, was daar ook ʼn kommentaar van Mteto Nyati, uitvoerende hoof van MTN Suid-Afrika. Nyati het geskryf hy was geskok om van Green se slegte ervaring met MTN te lees.

“Ek vra om verskoning vir hierdie diensmislukking. Ek sal hierdie ervaring as ʼn leergeleentheid gebruik om seker te maak dat niemand anders deur soortgelyke ervaring gaan nie. Ek vra weer eens om verskoning. Ek het reeds ʼn ondersoek na die saak van stapel gestuur. Ons sal die nodige dissiplinêre stappe doen op grond van die bevindinge. Die agent betrokke sal onmiddellik geskors word.”

Maroela Media het MTN Suid-Afrika om kommentaar genader en ʼn woordvoerder het onderneem om binnekort terugvoer te gee. Intussen het Green op haar Facebook-blad ʼn beroep op Nyati gedoen om ʼn gespesialiseerde opleidingsprogram van stapel te stuur waardeur inbelsentrumagente opgelei word om noodoproepe van mishandelingslagoffers te hanteer. “Ek pleit by jou om nie ontslae te raak van die probleem nie, maar eerder die oplossing vir die probleem te wees,” het Green geskryf.

Die provinsiale polisiewoordvoerder kon nie Woensdag telefonies vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

mariaan ·

Ek was vir 16 jaar by MTN, maar het verlede jaar my kontrak kanselleer weens swak diens. Hulle dienssentrum se fone word nie geantwoord nie, die selfoon se battery moet vol gelaai wees, want dis heeltyd die stemboodskappe wat vra dat jy moet aanhou om met iemand te praat, wat baie lank kan wees, tot jy naderhand uit frustrasie die foon neersit.

Alternatief ·

Gelukkig kan ons nou oorgaan na Afrisel. Hulle gee darm om.

Jeanne ·

Dis reg, gaan gee hulle aan, roep hulle tot verantwoording, hierdie maatskappye maak miljoene uit SA se mense maar wil geen ordentlike diens lewer nie. Tyd dat die diens opgeskerp word, want hulle is nooit skaam om die fooie op te stoot nie. Die verskoning is nou nice en alles, maar kon ‘n lewe gekos het, indien dit nie reeds het nie. Doen wat julle sê julle gaan doen en hou op verskonings maak.

Petro ·

Een van die vele redes hoekom ek weg is by MTN hul is onbehulpsaam en plein weg ongeskik maar kyk gooi Vodacom call centre nie weg nie ons het vir n week gesukkel om my ma se foon geblok te kry wat uit haar baadjiesak gesteel is in n winkel sentrum elke keer as ons bel dan se hul our systems are down there is nothing we can do please call again tomorrow dan wil ek die piep kry my broer is darem tegnologies gevorder en hyt toe my ma se foon gaan blacklist van die rekenaar af.

Belinda ·

Dis n skande om mense in poste te sit en nie eers hulle werk kan doen nie as mens daar werk moet jy al met die eerste oproep al die besonderhede kon skryf en verstaan en nie na die volgende persoon aangeskuif word nie. Enige persoon in daai sentrum weet hulle gaan met mense te doen kry wat in ‘n ongeval of posisie is asseblief hou ons op hoogte!

LS ·

Dit is verskriklik !!!
Maar so gaan dit in die land van ons met MEESTE dienste !

Ronel ·

Ek het eenkeer ‘n man te hulp gesnel wat oorkant my werk ‘n epileptiese aanval gekry het. Hy het met die val sy kop teen ‘n paal gestamp wat bedoel is vir ‘n parkeermeter. Hy het vreeslik gebloei. Any way. My punt is. Ek het sover moontlik probeer noodhulp toepas en 10111 gebel en ‘n ambulans versoek. Die persoon aan die ander kant van die lyn het eers vir my gesê hy weier om AFrikaans te praat en toe ek dit in Engels herhaal het hy gesê ek moet die ambulans noodlyn bel en die foon neergesit. Wat de hel daai nommer ookal mag wees!!!!
Verkeerskonstanbel het ook by my gestop en op sy radio die nooddienste ontbied. Nie minder nie as 4 keer!!!! Dit het hulle 50 minute gevat om by ons uit te kom. Die man het naderhand in so mate herstel dat hy wou opstaan en loop. Ek het gesê h moet eerder was agv die stamp teen sy kop, maar omdet die ambulans so lank gevat het, het hy sy vrou gebel om hom te kom haal en dokter toe te vat. Een woord. PATETIES!!!

Griet ·

Ek moes ook ‘n rukkie terug paniekbevange ADT se noodnommer bel – ek het dadelik in Afrikaans weggeval met adres en kom help asb – net om te hoor dat die persoon aan die anderkant nie Afrikaans verstaan nie… Ag please, my adres klink dieselfde in Engels en so ook die woord ‘help’!

Mariette Hammann ·

Suid-Afrika moet ‘n noodnommer kry waarheen almal, ongeag by watter selfoonmaatskappy jy is, of selfs Telkom, onmiddellik kan skakel en opgeleide mense hê wat die oproepe kan hanteer. Dit sluit in van die skakelbordoperateurs tot die polisie en nooddienste. Ons hoë misdaadsyfer vereis die. Gee sommer ook positiewe werk vir baie werkloses.

Baie bly ek is weg van MTN af!

flaai ·

Marietjie Hammann,
Jy het sulke goeie raad gegee dat ek dink jy moet minister wees van Call Centers. Hope like sal dinge dan beter vlot as nou

Andrea ·

Sal Afriforum of Solidariteit nie maar so iets begin nie, asb? Dit kan ook weer werksgeleenthede aan mense gee.
Ek sou baie veiliger voel as ek weet betroubate hulp is net n.oproep ver.

ouma ·

Dit is omdat ‘n lewe niks meer werd is nie. Daar is geen trots meer in die werk wat gedoen word nie. Gee nie om hoe hulle publiek behandel nie. As ek jou raad kan gee – moenie langer by by MTN bly nie. Jy sien mos nou watter sort diens daar gelewer word.

Gurken ·

Ek sal graag wil weet hoekom Maroela Media nie die private veiligheidsmaatskappy en hulle werker se name nie bekend maak (of noem) nie, alhoewel Pam Green dit genoem het in haar oorspronklike Facebook plaasing. Dit voel of julle vinnig is om slegte diens uit te wys maar wil ook nie erkening gee waar dit nodig is vir uitstekkende diens nie.???

Piet Pompies ·

Gedurende 1997 in Vanderbijlpark omtrent 18h15 maak ek ‘n nood oproep by ‘n ongelukstoneel. Toe ek die oproep eindig hoor ek die eerste sirene van die noodvoertuig aankom, binne minute is die nood situasie onder beheer. Puik werk.

Shirley ·

Ons het juis as gevolg van die swak diens by al die nood nommers aangesluit by ‘n groep wat dit dadelik hanteer en ‘n ambulans stuur. Dit help nie om die ambulansdienste (staat) te skakel nie en jy is nogal gelukkig as die SAPS die nood nommer antwoord. Dan die oneindige lang gesprek om alles te moet spel en oor en oor te moet verduidelik wat het gebeur. Daar moet opgehou word om mense aan te stel in poste omdat hulle ‘n groep verteenwoordig en om hulle in hul poste te hou as daar genoeg bewyse is dat hul onbevoeg is.

Willie E ·

084 124…my skoonpa is gedurende Oktober oorlede. Die bure het ER24 geskakel om the help,binne minute was die MANNE in ROOI daar,en hulle het als gedoen. Ongelukkig kon hulle niks vir hom doen nie want hy was reeds weg met hul aankoms,maar hulle reaksie was PUIK!!!
Baie baie dankie aan die ER24 mense, Jan publiek,dit is die mense om te bel in ‘n noodgeval…glo my,puik reaksie,puik diens,onglooflik PROFESIONEEL!!!! Dankie ER24!!!

Ceward Thornhill ·

Probeer Crisis On Call Marius hulle is puik en Afrikaas.

Marius Vermaak ·

CrisisOnCall kan gekontak word by 0861 57 47 47 ( Bemarkingskantoor) of sms net jou epos adres na 48950. (kostes R1.50 per sms)

Marius Vermaak ·

Bel hulle op 0861 57 47 47 by hul Bemarkingskantoor of sms sentrum na 48950. sms kos R 1.50.

Wilma Potgieter ·

besighede in SA is daagliks in di spervuur oor Incompetence . ai mense dit sal nooit verander nie

Magteloos ·

Almal kritiseer MTN; ja, dit was uiters swak diens.
Maar waar is 10111 as ons hulle nodig het? Ons was in Brits ooggetuie van ‘n vragmotor wat ‘n ongeluk veroorsaak het en weggejaag het. Ons het agter hom aangery, 10111 gebel en gesmeek om hulp te stuur. Moes ook hoor ons moes 112 bel. Het op die ou einde Brits polisiestasie se tel nommer gekry, maar daar was geen antwoord nie. Hy het ons van die pad af probeer ry, maar ons het hom bly volg. Eers opgegee toe hy omdraai en in die lokasie in ry van waar hy gekom het.
Vandaar na polisiestasie waar ons absoluut geen hulp gekry het nie, met fone wat bly lui in die agtergrond en nie geantwoord word nie.
Vandaar na die ongelukstoneel maar die voertuig was nie meer daar nie, het by al die hospitale gestop om uit te vind of die mense okay was maar kon niks kry nie.
Baie, baie eensaam gevoel om so alleen teen ‘n krimineel te veg, met niemand wat omgee om te help nie.

RC ·

10111 se slegte diens kom al ‘n lang pad. Ek het hulle ook geskakel en Afrikaans gepraat toe sit hulle die foon neer terwyl ek praat, toe ek terugskakel toe skree hulle op my en sê ek moet Engels praat, toe ek dit doen toe verwys hulle my na die Durbanville verkeers departement toe. Ek sal hulle NOOIT weer skakel nie, ek kry eerderCDF uit, moet nie eers dink om polisie te in die hande te krynie. ‘N man met ‘n bakkie het my en my kleindogter van die pad af gedruk, daarom het hulle voorgestel ek kontak die verkeersdepartement. Dit was ses uur die aand en skemer, hulle is daardie tyd toe.

Maria ·

Skakel 084124 vir vinnige, doeltreffende hulp in tyd van nood.

sdl ·

Het 45min en langer aangehou om Tshwane ambulans dienste te kry op 10177. Het Beeld koerant gebel en met n mans persoon gepraat wat ek kon hoor hy gaan niks omtrent die storie doen wat eintlik mense se lewe op die spel het. Ek het hom versoek om n NOOD oproep te maak en vir homself te sien. Dit was seker maar ou nuus…… Dankie aan Maroela nuus om sulke swak diens uit tewys. Maroela of Solidariteit moet dalk ook n nooddiens sentrum op die been bring.

Lance ·

Ek het al gebel en moes my straat se naam seker 5x spel ….”Mossie ”…..huh hoe moeilik kan dit nou eintlik wees ….die mense wat daar werk moet dalk meer as n std 3 hê …kan nogal help !

Joe ·

Ek dink dis vinniger in vandag se tye om n post op Facebook te sit , sê wat die noot is en waar jy is . Dalk met n HELP… En dan bel jy die nood dienste ….

norma ·

Ek het die geval gehad waar vir my gevra is hoe spel mens’p’ .
Say no more!!

Hennie ·

Dis die ellendigheid waarmee ons in hierdie land sit. Almal wil posisies beklee maar het nie ‘n benul van diens lewer nie, hulle wil salaris hê en verder gelek word om ‘n vinger te verroer. En niemand mag iets sê nie, dan is dit diskriminasie.

Koos ·

Sit tans met probleme by MTN vanweë uiterste swak diens deur onbevoegde personeel! Na vele pogings om hulle te kontak en persoonlik na verskillende takke te gaan, was alles pure verniet! Daarom is ek ook al gatvol en ek en my hele gesin tans besig om MTN te verlaat!!!!

jaco ·

Dis alles regstellende aksie se skuld, waarvolgens mense werk kry NET omdat hulle die regte velkleur het. Bevoegdheid, opleiding, ondervinding ens ens speel GEEN rol nie. Ek SIDDER vir wanneer so n regstellende aksie aangestelde persoon weens pure incompetence die verkeerde knoppie by koeberg kernkragstasie gaan druk en n nuclear meltdown gaan volg…

Johann Barnard ·

Van my wit familie lede is in die polisie en ek kan hulle niks vra nie,hoekom sal ek nog probeer om n vreemde polisie man of vrou iets te vra……..

jennefer ·

Eergister op N1 rigting Noord, ry ek onderdeur voetgangerbrug. Tieners gooi n klip na benede wat ons rakelings mis. 100m verder klim n bestuurder uit sy voertuig, ons stop en vra of hy raakgegooi is. Hy bevestig , en het gelukkig nie skade. 5km verder rapporteer ek dit by die teller van Carousel tolhek. Ek word aangese om die nommer op die kwitansie te skakel. Dis 18h00 niemand antwoord. Ek rapporteer die volgende oggend, en daar word vir my gese, dis n probleem dat mense voorwerpe afgooi, maar hul kan niks daaraan doen nie. Ek dag ek betaal om veilig te ry?

Skokkend ·

Ek is, na jare wat ek mtn ondersteun, baie ontevrede met sekere klante diens. Ek het al 10min moes aanhou vir n operateur. As dit nou n noodoproep was? Soos nou wat ek lees?! Nee wat,ek soek diens.

Johanna Botha ·

10111 is en was nog alryd n gemors en die mense in beheer luister nie na mense se oproeppe tot verbetering ….same old same old …..PATETIES !

t ·

Het ‘n soortgelyke ervaring met MTN gehad. Ek was besig om ‘n hartaanval te kry en het MTN 112 geskakel. Elke keer moes ek eers na ‘n minuut of meer se voorafopgeneemde stories luister. Die operateur het ‘n voorafopgestelde vraelys waarvan hy net eenvoudig nie afwyk nie. Na die derde poging het ek die selfoon teen die muur stukkend gegooi en het my seun ADT se noodknoppie gedruk. Hulle reaksie eenheid was binne 3 minute by my in die huis. Nou is die standaard reëling dat ons ADT se knoppie druk en nie eers bodder met 112 nie.

JOHANNA ·

Skokkende diens lewering. SKOKKEND – maar hoe kan ons dan nou anders verwag in hierdie land ?

Niccy ·

Lance# Daardie operateurs was dalk saam met zumpie in die klas.

LB S ·

Marula, ons wil graag weet wat van die vrou geword het, wie wou haar doodmaak? Wat is haar toestand?

Sam ·

Om 16:45 15 Januarie 2016 het ek ‘n nood oproep gemaak na mtn se nood nommer. Ek wag nogsteeds dat hulle iemand uit stuur….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.