Ondersoek gedoen ná verdagte in polisievoertuig sterf

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) doen ʼn ondersoek nadat ʼn 37-jarige selfoonverkoper agter in ʼn polisievangwa dood is.

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het gesê die voorval het op 3 November gebeur. Polisiebeamptes het inligting ontvang dat die man buite die Pick n Pay in Hoofweg, Rondebosch, selfone verkoop het. “SAPD-lede het die inligting opgevolg en die man op die toneel met die selfone gevind,” het Dlamini gesê.

Polisiebeamptes het vermoed dat die selfone gesteel is en het die man in hegtenis geneem. “Die polisiebeamptes het die man agter in die patrollievoertuig gelaai met sy hande agter sy rug geboei. Met hul aankoms by die polisiestasie omstreeks 18:10 het die SAPD-lede die voertuig se deur oopgemaak en die man uit die voertuig gehelp.”

Dlamini het gesê die beamptes het gesien die man sukkel om asem te haal en het die paramedici ontbied. Paramedici het die man op die toneel dood verklaar.

ʼn Nadoodse ondersoek is op 4 November gedoen kort voor die verdagte, wat ʼn Moslem is, begrawe is. “Die oorsaak van dood is nog nie bekend nie. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen,” het Dlamini gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LM ·

Gaan die man ook nou ‘n hero word soos Steve Biko wat onder dieselde omstandighede dood is ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.