Ondersoek geëis ná Denel-ontploffing

Die ontploffing Sondag laataand. (Foto: Reza/Twitter)

Talle vrae het ontstaan oor die operasionele veiligheid en die voortsetting van produksie by die Rheinmetall Denel-springstofaanleg by Macassar in Kaapstad ná ʼn ontploffing Sondag by dié aanleg. Dit is die tweede ontploffing in byna drie jaar by dié aanleg.

Geen beserings of sterftes is aangemeld nie.

Die vakbond Uasa en VF Plus bevraagteken die bestuur se gebrek aan besorgdheid oor die welstand van werkers en eis dat die ontploffings deeglik ondersoek moet word.

Volgens die VF Plus is die ondersoek na die vorige ontploffing in September 2018 nog nie eens afgehandel nie en kon dié een moontlik verhoed gewees het indien ordentlike ondersoek ingestel is.

Agt mense is in die 2018-ontploffing dood.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê dit is onaanvaarbaar dat produksie voortgegaan het en menselewens sodoende op die spel geplaas is voordat antwoorde oor die ontploffing gevind is. Hy meen die jongste ontploffing dien as bewys hiervan.

“Die tyd het aangebreek dat Denel oop kaarte speel oor die veiligheid by dié aanleg. Die probleme wat daar bestaan is nie ʼn kruitvat wat wag om te ontplof nie, dit het nou reeds twee keer gebeur,” het Groenewald gesê.

Groenewald, wat self ʼn kundige op die gebied van die vervaardiging en berging van springstof is, sê waar met springstof gewerk word, is daar streng veiligheidsmaatreëls wat nagekom moet word ingevolge die Wet op Plofbare Stowwe.

“Indien daar nougeset by die voorskriftelike lisensies ingevolge die wet gehou word, soos oor die hoeveelheid plofstof by ʼn bepaalde punt, is die moontlikheid van ʼn ongeluk soos dié by Macassar en die groot waarskynlikheid van lewensverlies wat daarmee gepaard gaan, uiters skraal.

“Daar kan om hierdie redes wel geldige vrae aan Denel gevra word oor die redes vir die ontploffing. Die vrae sluit in die opleiding van personeel en of die voorskrifte vir die berging nagekom is. Hierdie vrae kan nie weer vir langer as drie jaar onbeantwoord bly nie.

“By ander instellings is daar nie werklik direkte lewensgevaar wanneer ʼn agteruitgang in operasionele kundigheid of instandhouding plaasvind nie. Waar plofstof ter sprake is, is die gevolge gewoonlik dodelik.”

Die vakbond Uasa het ook sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan gekwalifiseerde ontploffingsbestuurders by aanlegte, wat tot rampspoedige ongelukke en moontlike lewensverlies en beserings kan lei.

Volgens Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, eis die vakbond bewyse van gekwalifiseerde ontploffings- en ander bestuurders in alle Denel-afdelings wat toesig hou oor projekte wat tot ʼn gevaarlike werksomgewing vir werkers kan lei.

“Waar daar geen kwalifikasies is nie, moet sulke bestuurders nie aangestel word nie. Die veiligheid van werkers kan nie in gevaar gestel word deur aanlegte wat werk sonder gekwalifiseerde bestuurders om toesig te hou oor prosesse nie,” sê Moyo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

casper ·

Lekker man – Nog ‘n komissie met 5 ster hotel akkomodasie en 3 maaltye per dag vir 6 maande vir die lojale ANC volgelinge wat sal besluit dis net ‘n ongelukkie !!

Marius ·

Gaan nie oor kwalifikasies in ons land nie nou wil almal skreeu i rest my case

ES ·

Enige staatsbeheerde entiteite is onstabiele tydbomme… ongelukkig het hierdie een regtig ontplof. Dis skokkend, hulle kan nie een ding reg doen of laat seevier nie, nie een ding nie!

Charl ·

Voor ’94 het jy nie gehoor van sulke katastrofes nie….na ’94 is dit aan die orde van die dag ! Wat se dit jou ?? Ongeletterd, nie gekwalifiseer, onbevoeg. Daarsy.

Baardman ·

Al Denel se kundiges sit by die huis of in die buiteland weens wan of geen betaling. Wat kan mens nou meer verwag.

christo ·

Orals waar die ANC regerIng betrokke is, en in hierdie geval die minister van staatsondernemings, Pravin Gordhan, geen sukses behaal in Denel, Eskom, SAA, noem maar op, is die Affirmative Action en BEE een groot gemors. Moenie verbaas wees dat die Duitse vennoot, Rheinmethal as gevolg die wanorde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.