Ondersoek gevra na blitspatrollie se radioprobleme

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Action Society is deur lede van verskeie polisie-eenhede genader oor probleme met hul radiokommunikasiestelsels.

Volgens Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, is die probleem landswyd en dit het algemene praktyk geword vir polisiebeamptes om hul persoonlike selfone – op hul eie koste – te gebruik om met mekaar te kommunikeer.

“Dit is skokkend, maar nie verbasend nie, dat die probleme by bevelvoerders aangemeld is, maar daar is nog steeds teen terugvoer oor wat gedoen word om die probleem op te los nie,” sê Cameron. “Een van die eenhede wat ernstig hierdeur geraak word, is die Wes-Kaapse blitspatrollie. In gebiede soos Delft, Gugulethu en Khayelitsha, word die blitspatrollie gewoonlik eerste na aktiewe tonele ontplooi. Betroubare kommunikasie vir só eenheid kan die verskil beteken tussen lewe en dood, veral as mens die tekort van polisiebeamptes in dié gebiede in ag neem.”

Action Society het die provinsiale polisiekommissaris, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Wes-Kaapse provinsiale regering skriftelik genader vir ʼn dringende ondersoek na die kritieke ineenstorting van die Wes-Kaapse blitspatrollie se radiokommunikasiestelsel.

“Ons is baie besorg oor die toenemende getal probleme wat deur die Wes-Kaapse blitspatrollie en ander eenhede in die SAPD in die gesig gestaar word. Die gevolge van onvoldoende kapasiteit en wanbestuur van hulpbronne word weerspieël in ons land se misdaadstatistieke.”

Cameron sê wanneer hy [nasionale polisiekommissaris] Bheki Cele weer sien, sal hy hom vra hoekom hy “goeie polisiebeamptes blind in ʼn tipe oorlogsone instuur”. “Ek sal vir hom sê hy stuur sy polisiebeamptes na hul dood en hy sal te skaam wees om die gevalle polisiebeamptes se families te besoek. Ek sal die polisiebeamptes in Delft vra om vir my te sê of hulle goed toegerus voel om hul werk te doen. Ek wonder of hy weer vir my sal sê ek moet my mond hou?

“Ons sal druk op die Wes-Kaapse kantoor van die SAPD hou totdat die probleem opgelos is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre ·

Cele is té besig om sy joppie te beskerm,om aandag aan sy manne op grondvlak te gee!

ES ·

Maar ons ministers en president is te besig om hand om die blaas met Hamas te wees as om enigsins om te gee oor hul eie land se welstand.

Boeing ·

Ek het ‘n vriend wat “n treindrywer is hier in Pretoria. Hulle moet ook hulle privaat selfone gebruik om te hoor of die spoor oop is vorentoe en of hulle maar kan ry. Kry geen vergoeding nie.

Roek ·

Almal het skandeerders wat alle kanale monitor, te min te laat , waneer die dam wal gebreek het is dit te laat en is ek bevrees dit is te laat !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.