Ondersoek gevra ná gevangenes weer ontsnap

Die Malmesbury- korrektiewe fasiliteit. (Foto: Google)

Die DA beplan om ʼn skrywe aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, Gratitude Magwanishe, te rig oor die stand van sake by die Malmesbury‑ korrektiewe fasiliteit ná die jongste ontsnappingsvoorval wat Woensdag plaasgevind het.

Die DA eis nou dat ʼn volledige ondersoek na die toestand van hierdie Wes-Kaapse fasiliteit gedoen word, aangesien dit nie die eerste keer is wat gevangenes uit dié gevangenis ontsnap nie.

Janho Engelbrecht, DA-LP-woordvoerder van korrektiewe dienste, sê die fasiliteit se bedrywighede moet so gou moontlik aan ʼn deeglike ondersoek onderwerp word.

“As daar iets meer slinks aan die gang is waarby werknemers van die fasiliteit betrokke is, moet hulle aanspreeklik gehou word,” sê hy.

Drie gevangenes het Woensdagaand daarin geslaag om uit die fasiliteit ontsnap. Een van die mans is reeds vasgetrek, maar die ander twee is steeds op vrye voet.

Dit is nog nie duidelik hoe die gevangenes uit die fasiliteit ontsnap het nie, maar die departement het ʼn ondersoek geloods om die omstandighede van die ontsnapping uit te pluis.

Soortgelyke voorvalle het boonop die afgelope jare plaasgevind.

“Talle gevangenes het in Junie 2020 uit die fasiliteit ontsnap, terwyl twee gevangenes in Februarie verlede jaar dieselfde gedoen het,” sê hy.

“Dit is duidelik dat die sekuriteit by die tronk onvoldoende is – en dít is iets waaroor ons almal bekommerd moet wees.”

Volgens Engelbrecht ondermyn ʼn poreuse fasiliteit die pogings van wetstoepassers wat onvermoeid gewerk het om die gevangenes in die eerste plek vas te trek.

“Dit plaas ook onnodige druk op wetstoepassers se hulpbronne. Die parlement moet ingryp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wondermaarnet ·

Kry honde om die perseel op te pas. Hulle sal beter vaar as die bewaarders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.