Ondersoek gevra ná munisipale werkers hofbevel glo minag

Die Steve Tshwete -plaaslike munisipaliteit se kantoor in Middelburg. (Foto: CoGTA/Facebook)

ʼn Plaaslike prokureur van Middelburg wat onlangs ʼn interdik teen stakende werkers van die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit bekom het, vra nou dat aanklagte van minagting van dié hofbevel ondersoek word.

Dit kom nadat werkers Woensdag glo geweier het om te werk voordat die burgemeester nie die munisipale kantore ontruim nie. Binnegevegte by die munisipaliteit heers al maande lank.

André Brandmuller sê die werkers se optrede kom neer op  ʼn staking soos omskryf in die Wet op Arbeidsverhoudinge.

“Daar was geen voldoening aan hierdie wetgewing wat daarop kan dui dat die staking wettig is nie,” sê hy.

Die hofbevel wat vroeër vandeesmaand toegestaan is, verhoed enige onwettige of onbeskermde stakings deur die munisipale werkers. Dít omdat die werkers sporadies maande lank gestaak het en broodnodige dienslewering erg ontwrig het.

Brandmuller vra nou dat die bevelvoerder van die Middelbrug-polisiestasie die werkers se versuim om gehoor te gee aan ʼn hofbevel ondersoek. Die hof het destyds ook die polisie verplig om uitvoering aan die interdik te gee en teen enige nienakoming daarvan op te tree.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet die bevel afdwing en die werkers wat aan die onwettige aksie deelgeneem het voor die hof bring vir minagting.”

In die geval dat die polisie egter nie bereid is om gehoor te gee aan die hofbevel nie, is Brandmuller van voorneme om ʼn aansoek by die hooggeregshof in te dien om die betrokke polisiestasie en sy bevelvoerder aanspreeklik te hou vir minagting van die hof.

Brandmuller het met sy oorwinning in die hof die betrokkenes gemaan dat hy nie agteroor sal sit en toekyk as die hofbevel verontagsaam word nie.

“Die dorp en sy inwoners gaan nie verder gyselaar gehou word nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.