Ondersoek: Het Vodacom Verbruikerswet oortree met kontrakverhogings?

Foto: vodacom.com

Foto: vodacom.com

Suid-Afrikaanse verbruikers met selfoonkontrakte by Vodacom is woedend nadat hulle verlede week in kennis gestel is dat hul intekengeld op van sy kontrakplanne van 1 Mei af styg.

Terwyl dit op die oog af lyk asof verbruikers die Wet op Verbruikersbeskerming kan inspan om hul regte te beskerm, doen die Nasionale Verbruikerskommissie ’n voorlopige ondersoek om te kyk of Vodacom die Wet op Verbruikersbeskerming oortree het deur die prys te verhoog sonder om verbruikers die kans te gee om hul kontrak te kanselleer.

Die styging is van toepassing op nuwe en bestaande ooreenkomste vir pakkette van Vodacom Smart, uChoose Smart, uChoose Flexi, Top Up en selfoonbreëband (Mobile Broadband). Richard Boorman, woordvoerder van Vodacom, het aan Maroela Media gesê die gemiddelde werklike prys van lugtyd en data het oor die afgelope twee jaar met omtrent die helfte gedaal.

“Hierdie soort deflasie is ongehoord wanneer dit vergelyk word met ander daaglikse-uitgawe-items soos voedsel en krag. Dit steek ook af by die groot toename in belegging in ons netwerk waar amper R30 miljard die afgelope vier jaar bestee is. Die verlaging van interkonneksietariewe het ook ’n groot invloed op ons inkomste gehad, terwyl koste intussen ook gestyg het weens onder meer kragprobleme. Gegewe die druk van weerskante, moes ons tariefstrukture hersien saam met die inwerkingstelling van kosteverminderingsprogramme binne die maatskappy,” het hy gesê.

Volgens Boorman verwag die maatskappy dat die gemiddelde werklike prys sal aanhou daal wat dienste meer toeganklik sal maak, maar namate individuele klante meer lugtyd en data gebruik, sal hul algehele uitgawe dieselfde bly of vermeerder. Hy het gesê hul terme en voorwaardes maak voorsiening vir die verhoging met ’n klousule wat die maatskappy die reg gee om hul heffings aan te pas.

Regulasie 44 van die Wet op Verbruikersbeskerming dui aan dat klousules in kontrakte onder meer onregverdig is indien dit die verskaffer toelaat om die prys waarop hy oorspronklik met die verbruiker ooreengekom het, te verhoog sonder om die verbruiker die reg te gee om die kontrak te kanselleer.

Volgens artikel 14 van die wet, wat oor vastetermynkontrakte soos selfoonkontrakte handel, kan verbruikers ’n vastetermynkontrak kanselleer deur 20 sakedae kennis te gee. Die verskaffer kan dan ’n kansellasiefooi hef wat die volgende faktore in ag moet neem:

  • die bedrag wat die verbruiker nog skuld,
  • die waarde van die transaksie tot en met kansellasie,
  • die waarde van die goedere wat in besit van die verbruiker bly,
  • die waarde van die goedere wat aan die verskaffer teruggegee word,
  • die kontraktydperk waartoe die verbruiker oorspronklik ingestem het,
  • die verbruiker se verliese en voordele volgens die ooreenkoms,
  • die aard van die goedere,
  • die lengte van die kansellasiekennisgewing,
  • die billike moontlikheid dat die verskaffer iemand anders sal kry om die res van die kontrak oor te neem en
  • die algemene praktyk in die bedryf.

Die verskaffer mag egter nie ’n fooi hef wat die verbruiker sal keer om sy reg op kansellasie uit te oefen nie. Mense wat al hul selfoonkontrakte om ander redes gekanselleer het, meen dat hulle steeds baie betaal het om uit die kontrak te kom. Dit kan verbruikers dus ’n stewige eenmalige bedrag kos om hul Vodacom-kontrak te kanselleer.

Trevor Hattingh, woordvoerder van die Nasionale Verbruikerskommissie, wat verantwoordelik is vir die toepassing van die wet, het aan Maroela Media gesê die kommissie is besig met ’n voorlopige ondersoek om die feite en meriete van die klagtes wat hulle oor die prysverhoging gekry het, te bepaal.

“Dit werk gewoonlik so dat wanneer een party in ’n ooreenkoms dit verbreek, die ander party dit kan kanselleer,” het hy gesê. Die kommissie sal eers ná die ondersoek besluit of die verhoging onwettig is kragtens die wet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Henk ·

as ek nie betaal nie, sit hulle my sein af. hulle oorhandig my en dagvaar my want ek het kontrak gebreek. MAAR as hulle my verder wil besteel, dan kan hulle dit doen soos hulle goeddink en ek sal steeds aanhou betaal want dis hulle reg om meer te vra en kansellasiefooie na willekeur te eis wat dit nie die moeite werd maak om te kanselleer nie. Derhalwe sal AL hierdie groot maatskappye wat ALMAL kop in een mus is, voortgaan om ons as publiek op korrupte wyse te beroof en te besteel totdat 10 miljoen mense opstaan en ‘n streep trek. Ek is egter bevrees daai streep sal NOOIT getrek word nie, want is SA kan nie eens twee mense saam staan nie, wat nog te se van 10 miljoen?

Amanda ·

Ek wil nog steeds weet hoekom verval jou data wat jy nie gebruik nie. Ek betaal daarvoor, ten duurste, maar as ek dit nie binne ‘n maand klaar gebruik nie vat hulle dit terug. Dis soos om ‘n pak suiker te koop, en as jy dit nie klaar gebruik nie, kom vat die winkel die oorblywende suiker terug en jy moet maar weer ‘n vol pak gaan koop!! GGGrrrrr!!!!

Panana ·

Selfoon maatskappye is soos banke en politici, hulle doen net wat hulle wil en daar is nie regtig iets wat gedoen kan word nie behalwe as 10miljoen saamstaan wat nie gaan gebeur nie

Carel ·

Dit grief my dat Vodacom oor die jare, telkemale hul pryse verlaag het, maar vir diegene wat ‘n kontrak geteken bet teen die hoër prys, geforseer het om die kontrak teen die duurder tarief te eer vir die res van die kontrak.
Hulle het ook telkemale geweier om enige verduideliking te hef raakende hul duurder pryse vir dieselfde dienste van kompeteerende maatskappye (lees Cell C).
Laastens, het ek Hulle ook telkemale uitgevra sonder enige redelike verduideliking oor hoekom die data, en minute wat ingesluit is in my pakette verval. Dit tog nie melk en eiers wat verval en afgaan nie? …maar wat weet Ek tog….

Janine ·

Ek het gehoor dat Vodacom en neotel nou saamwerk as een maatskappy; vandaar die verhogings (vir die bankrot neotel).

Hennie Pitzer ·

Wat Mnr Boorman en Vodakom nie in die artikel bekend gemaak het nie; is dat daar hoë kostes is vir die verbruiker is as jy jou kontrak wil kanseleer. Dit kan ‘n verbruiker met een kontrak Twaalf duisend Rand of meer uit die sak jaag, afhangend van watse instrument jy het en hoe lank jou kontrak nog moet wees.

Elfie ·

Ja en die cheek wat hulle het om somemr my net te SMS van die verhoging – plein ongeskik sou ek sê! Ek hoop hulel word uitgevang. Hoekom moe tons, die wat kontrakte het en hul dus pal ondersteun gestraf word terwyl pay-as-you-go lekker goedkoop aangaan??

Blikskim ·

Eenvoudige oplossing: Kry vir jou ‘n SIM van elkeen van die spelers (49c stuk) en bly op pay-as-you-go. As jy wil kan jy vir jou ‘n handstuk kry vir elkeen van die kaarte. Fone lê letterlik rond. R199 nuut by PEP Stores. Gebruik die diensverskaffer wat op daardie tydstip die goedkoopste is. Jy word nie deur enige van hulle gevange gehou nie en jy kan, as jy mooi werk, BAIE goedkoop oor die weg kom. Ek werk al ‘n paar jaar so.

Winston ·

Ek hoor jou maar ons word gevange gehou deur MTN die enigste diensverskaffer in die land Gad. Hier waar ek bly

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.