Ondersoek kom ná leerder tydens kamp verdrink

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die departement van onderwys het ʼn ondersoek gelas nadat ʼn gr. 10-leerder van die Xolani High School in die Oos-Kaap Donderdag tydens ʼn leierskapkamp verdrink het. Die departement oorweeg ook strafregtelike klagte teen diegene wat verantwoordelik was vir Avethandwa Nokhangela (15) se dood.

Nokhangela het tydens ’n Equal Education-leierskapkamp saam met medeleerders in die see aan die kus van Oos-Londen geswem toe sy vermoedelik deur seestrome meegesleur is.

Maroela Media het vroeër berig die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en polisie is omstreeks 14:30 na die toneel ontbied om na Nokhangela te soek. Die soektog het aanvanklik niks opgelewer nie. Haar liggaam het ʼn dag later op die strand uitgespoel.

Equal Education, ʼn nie-winsgewende drukgroep vir gehalte onderwys, het in ʼn verklaring gesê daar was omtrent 30 leerders en tien personeellede op dié leierskapkamp by Palm Springs-vakansieoord, sowat 20 minute van Oos-Londen.

“Terwyl die leerders ʼn breek van die dagkampprogram gevat het, het van die leerders onder die toesig van personeellede by ʼn strand ongeveer 500 m van die oord af gaan swem. Dit is toe dat Nokhangela deur die seestrome meegesleur is,” lui die verklaring.

Volgens Equal Education word verskeie vergaderings aan die begin van elke kamp gehou waar programme en aktiwiteite met personeel en leerders wat die kamp bywoon, bespreek word. Toestemmingsbriewe word ook aan ouers gestuur.

“Aan die begin van ons kampe is daar ook algemene inligtingsessies wat veiligheidsmaatreëls en reëls uiteensit. Al dié prosesse het by die betrokke kamp plaasgevind.”

Equal Education sê van die personeellede het kort na Nokhangela se verdrinking haar familie in Zwelitsha, digby King William’s Town, besoek om hulle van die ongeluk in te lig.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om die familie te ondersteun. Ons het ook beradingsdienste aan Nokhangela se familie en medeleerders gebied.”

Die departement van basiese onderwys sê in ʼn verklaring hy ondersteun Fundile Gade, die LUR van onderwys in die Oos-Kaap, se besluit om ʼn omvattende ondersoek na die omstandighede van die leerder se dood van stapel te stuur. Die departement sê dit is ook kommerwekkend dat Equal Education versuim het om die voorval onmiddellik by die departement aan te meld.

“Equal Education het eers die volgende middag ná die voorval (1 Mei) die departement daarvan ingelig. ’n Deeglike ondersoek na die voorval is nodig om te verseker dat al die feite ingewin word en dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word vir die onnodige lewensverlies,” lui die verklaring van die departement.

Die departement sê hy oorweeg ook ʼn strafregtelike klagte en het die polisie ook versoek om te help met die ondersoek.

Die departement sê hy het reeds amptenare na die skool gestuur om psigososiale ondersteuning vir leerders, en veral diegene wat die kamp bygewoon het, te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Niemand kan verantwoordelik gehou word vir die tragiese dood van die kind, alle kinders was vooraf ingelig oor die gevare selfs die ouers het toestemming gegee, moes die onderwysers elkeen se hand vas gehou het.

Tjom ·

Dept v onderwys was seker nog nooit in die see nie. Dis nie jou maaitjie nie al het jy honderde reels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.