Ondersoek kom ná man in polisieaanhouding sterf

Argieffoto

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het Maandag gesê hy ondersoek ʼn saak van aanranding en moord teen vyf beamptes ná ʼn man in Katlehong, Ekurhuleni, in aanhouding gesterf het.

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het gesê twee konstabels het Sondag ʼn voertuig voorgekeer waarin ses persone gery het, omdat dit voorgekom het of die bestuurder onder die invloed van alkohol is. Die bestuurder het hom aanvanklik teen inhegtenisneming verset en die konstabels het nog hulp ontbied.

“Die motoris is in hegtenis geneem en saam met twee van sy passasiers na Katlehong-Noord-polisiestasie geneem. Daar word beweer die drie mans is by die polisiestasie deur minstens vyf beamptes aangerand,” het Dlamini bygevoeg.

“Die drie persone is ná die beweerde aanranding na ʼn hospitaal geneem sodat bloedtoetse op die bestuurder gedoen kon word. Die bestuurder is uit die voertuig gehaal en die ander twee mans het in die polisievoertuig agtergebly.” Een van die mans agterin die voertuig is later dood aangetref. “ʼn Dokter het hom op die toneel dood verklaar.”

Die oorledene het geen sigbare beserings nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal binnekort gedoen word.

Die twee mans, die bestuurder en sy passasier wat vermoedelik aangerand is, is daarna na Thelle Mogoerane-hospitaal geneem. Die bestuurder van die motor is aangekla van dronkbestuur en sy passasier staan tereg op aanklag dat hy met polisiebedrywighede ingemeng het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

willem Botha ·

Hier bewys ek my mening weer oor die afwesigheid van regte polisie in SA .Die probleem word net groter met die klomp ongedissiplineerde, goed vir niks belasting vermorsers.

Ekke ·

Wat is deurmekaar storie…bestuurder / motoris … drie persone word na beweerde aanranding na die hospitaal geneem sodat bloedtoetse op die bestuurder gedoen kan word (??? het die bestuurder ooggetuies nodig gehad vir die bloedtoetse…) … dan word die bestuurder uit die voertuig gehaal en 2 mans bly agter in die polisievoertuig, waarna een later dood aangetref word… waar is persoon dood… op die toneel of in die aanhoudingselle of in die hospitaal….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.