Ondersoek kom nadat vrou ‘verkeerdelik’ gearresteer is

Amanda de Goede (56) is Vrydag in hegtenis geneem toe sy haar huiswerker wou verkla. (Foto: Facebook)

Die polisie het bevestig dat die beweerde teistering van Amanda de Goede deur Deneysville-polisiebeamptes tans ondersoek word.

Maroela Media het berig dat De Goede Vrydag in hegtenis geneem is toe sy die polisie na haar huis ontbied het om ’n klag van diefstal teen haar huiswerker te ondersoek.

In plaas daarvan om die klag te ondersoek het die polisiebeampte, wie se naam nie bekend is nie, De Goede gearresteer omdat sy glo ’n Zimbabwiese man “sonder papiere” in haar diens het – iets wat De Goede ten sterkste ontken.

Volgens De Goede is die Zimbabwiër ’n vriend van haar huis- en tuinwerker, ’n broer en suster, wat dié glo soms in die tuin kom help in ruil vir kos.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het sedertdien gesê dat die Vrystaatse polisiekommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, opdrag gegee het dat die bewerings ondersoek word.

“Die beweerde arrestasie van die persoon omdat sy glo ʼn onwettige immigrant aangestel het, word ondersoek. Die polisie kon glo die man se ‘papiere’ opspoor waarna die vrou vrygelaat is,” sê Mbambo.

“Dissiplinêre stappe sal gedoen word indien daar bevind word dat die polisiebeamptes buite die raamwerk van die wet opgetree het.”

Mbambo het ook bevestig dat die polisie oor ’n diefstalklag na De Goede se huis ontbied is en dat die huiswerker beweer het die geskil gaan oor geld.

De Goede het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat die polisie haar besoek het om ’n amptelike verklaring af te neem, maar dat sy “te bang” is.

Sy voer boonop aan dat een van die polisiebeamptes, vermoedelik die stasiebevelvoerder, tydens die besoek gevra het dat sy die saak nie verder sal voer nie. Hy het glo ook gesê dat die beampte wat haar Vrydag gearresteer het, om verskoning sal vra.

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag rakende dié bewerings gereageer nie.

Wessel Basson van die burgerregtegroep Patriot vir Minderhede, het ook intussen aangedui dat hulle beplan om De Goede in haar regsaksie teen die polisie by te staan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johan ·

Die’ nonsens sal net ophou wanneer siviele eise teen die beamptes persoonlik ingestel word.

Persheks Adri ·

Jammer sê? Dit help NIKS! Dagvaar die beampte persoonlik dat hulle bietjie leer as daar van 1 ‘n voorbeeld gemaak word magtag!

Genis ·

Hier is wolf skaapjagter.. weereen skokkend, ek wonder soms of die SAPD weet hoe onbevoeg hulle is…

Rian ·

Dit help nie jy stel n persoonlike eis teen die polisieman in nie. Hy het nie geld om jou te betaal nie. Dagvaar die saps.

Oros Soros ·

Nie korrek nie, die teendeel is waar. Daar is pensioengeld wat geneem kan word. Die hof het al voorheen kostebevele teen polisielede in hul persoonlike hoedanigheid gedoen.

thejudge ·

Dagvaar die Saps? Dan betaal ek en jy as belastingbetaler.

Jack Russ1 ·

Dan kan saps maar net die belasting geld gebruik wat hulle so mors en die polisieman gaan maar aan soos voorheen omdat dit hom nie raak nie

Oom Hennie Pennie ·

Kry Afriforum se spesiale ondersoek eenheid om te help.

marius ·

Die wittes se ordentelikheid in die hool is hul ondergang . Punt .

Magda G ·

Dagvaar die beampte vir wederegtelike arrestasie. Dis ironies as die huiswerker/s aangekla word van diefstal dan het die werkgewer kwansuis nie die persoon se salaris betasl nie.

Gert ·

En sy is betrap met die items in haar tas. Maar pêlle het weer gehelp

Misky ·

Daai stasiebevelvoerder klink my is bietjie bang en dink nie hy slaap snags lekker nie. Nie gedink die storie gaan so ver trek nie en nou ook in die sop

Ian ·

Jy kan nie n persoon arresteer en dan omdat jy wetend hatend rassisties opgetree het en die persoon in die tronk loop sit het nou omverskoning vra nie. Jy moet gefire word jy hoort nie in n A politiese instansie waar jy veronderstel is om n diens te lewer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.