Ondersoek moet oorsaak van brand by Denel-aanleg bepaal

Rheinmettal Denel RDM

Die brand het laat Sondagaand uitgebreek. (Foto: Reza/Twitter)

Terwyl ʼn ondersoek na ʼn ontploffing by Rheinmetall Denel Munition (RDM) sowat drie jaar gelede steeds nie afgehandel is nie, is ʼn nuwe omvattende ondersoek na die jongste ernstige voorval by die maatskappy se aanleg naby Somerset-Wes van stapel gestuur.

ʼn Massiewe brand het Sondagaand in ʼn magasyn uitgebreek. In hierdie stadium lyk dit egter nie of dit ʼn ontploffing was nie.

Derek Mans, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit, sê dit is nog te vroeg om te sê wat die moontlike oorsaak van die brand kan wees. Verskeie ondersoeke is reeds van stapel gestuur, onder meer deur die departement van arbeid en die polisie.

Solidariteit het, nes met die vorige voorval, reeds sy hulp aangebied om inligting te help versamel.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê dit is in die gemeenskap se belang dat uitsluitsel gekry word oor wat presies tot die brand gelei het.

“Ná enige voorval moet daar duidelikheid kom. ʼn Mens wil vir seker weet wat gebeur het sodat ʼn soortgelyke voorval voortaan verhoed kan word,” sê hy.

Marais sê dit is belangrik om te besef dat die maatskappy met hoogs vlambare materiaal werk, maar dit lyk nie of die stad of die provinsie versuim het om die nodige standaardvoorsorgmaatreëls te tref nie.

Mans sê ook die feit dat daar twee groot voorvalle binne drie jaar by die aanleg was, wek kommer.

In die jongste voorval was die perseel grootliks verlate, afgesien van veiligheidswagte wat aan diens was. Niemand is tydens die voorval beseer nie.

“Maar dit is nie normaal dat ʼn gebou net aan die brand slaan nie,” sê Mans.

Marais stem saam, maar sê ook daar is tans nog geen aanduiding dat nalatigheid tot Sondag se brand aanleiding gegee het nie. “Dit is nog te vroeg om te sê wát gebeur het, maar iets het gebeur wat die situasie veroorsaak het – en dit is kommerwekkend.”

In September 2018 is agt mense in ʼn reuseontploffing by die depot dood. Twee voorlopige verslae is ná die voorval opgestel, maar die bevindings het nie ooreengestem nie en openbare sittings daaroor duur steeds voort.

Cosatu het Vrydag buite die aanleg betoog en geëis dat RDM se plofstoflisensie opgeskort word. Cosatu voer aan die vorige ontploffing het weens nie-voldoening aan veiligheidsregulasies en nalatigheid plaasgevind, berig News24.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AW ·

Sal nie verbaas wees as dit pure nalatigheid was ….

Maar Tyd sal Leer !

VaalDonkie ·

Ek sal seker nooit weer S121 of MP200 kan koop nie. En die ingevoerde goed kos letterlik drie maal soveel.

Anthony ·

Dis die selfde as die Eskom substasien. …swak bestuur & mense wat nie weetr wat hulle doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.