Ondersoek na afsetting by Darling nog dié maand afgehandel

ʼn Herrie woed oor die plaas Colenso wat die departement aanvanklik aan Ivan Cloete toegeken het en daarna aan ʼn MK-veteraan gegee het. (Argieffoto ter illustrasie: Kwanalu/Facebook)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê die ondersoek na ʼn opkomende bruin boer wat by Darling in die Wes-Kaap van sy plaas afgesit is, sal teen die einde van die maand afgehandel wees.

ʼn Herrie woed oor die plaas Colenso wat die departement aanvanklik aan Ivan Cloete toegeken het en daarna aan ʼn MK-veteraan gegee het.

Die DA het intussen die ondersoek verwelkom, maar sê dit moet deur ʼn onafhanklike liggaam gedoen word om die regverdigheid en deursigtigheid te verseker “wat die departement oënskynlik nie self in grondrestitusiesake kan verseker nie”.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, het opnuut bevestig dat Cloete ʼn 30 jaar lange huurooreenkoms vir die plaas Gelukwaarts in die Wes-Kaap het. Die plaas is in September 2018 ingevolge die strategie vir proaktiewe grondverkryging (Plas) bekom.

Weens “omstandighede” is Cloete in 2019 van Gelukwaarts na Colenso verskuif.

Maroela Media het vroeër berig Cloete het Gelukwaarts verlaat omdat hy vir sy lewe gevrees het. ʼn Ander boer het reeds op die plaas geboer toe dit aan hom toegeken is.

“Die departement is bewus van ʼn onlangse poging om Cloete van Colenso af te sit en ʼn ondersoek is op 9 Februarie van stapel gestuur. ʼn Verslag word teen die einde van die maand verwag en gepaste stappe sal daarna gedoen word,” het Ngcobo gesê.

Hy sê die departement het ʼn verpligting om Cloete van ʼn plaas te voorsien en te verseker sy regte word beskerm.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, vra nou dat die minister, Thoko Didiza, ʼn onafhanklike forensiese ondersoeker aanstel om die verloop van sake te ondersoek en ʼn verslag daaroor aan die parlementêre portefeuljekomitee voor te lê.

“Die blote feit dat die departement Cloete se plaas aan ʼn MK-veteraan, wat reeds ʼn uiters suksesvolle sakeman is, toegeken het, is ʼn aanduiding dat die departement deurspek is met korrupsie en nie vertrou kan word met die regverdige proses wat nodig is vir grondherverdeling nie. Hy is dus nie in die posisie om die saak te ondersoek nie,” sê Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jakes ·

Hoekom moet MK lede plase kry? Is dit omdat hulle destyds bomme geplant het en onskuldige mense vermoor het? Of het hulle almal intussen by landbouskole geswot en nou bekwaam geword het om te kan boer? Ek dink ons almal weet wat die antwoord is op hierdie vra. Gee vir hulle “sweets” want dit is eintlik wat Umkoto we sizwe beteken.

PH ·

Hoekom moet daar altyd ‘n “ondersoek” gedoen word as dit so duidelik soos daglig is dat die regering aanjaag?

Blikkies ·

Dit is ‘n bloudruk van wat in Zimbabwe gebeur het. Ek kry onsself bitter jammer oor die jare wat nog kom as hierdie regering nie gestop kan word nie. Wat gaan van die jonger blanke kinders word ?

Flip ·

Al wat die ANC nog reg gedoen het is om te bewys dat mense wat gese her hulle kan nie die land regeer nie want hulle het nie die vermoe om hom te bestuur nie was reg.

Sonia ·

mnr Cloete is van die minderheidsgroepe en word dus teen hom gediskrimineer – ons moet ons daarteen verset en dit moet stopgesit word. Minderheidsgroepe moet nou begin saamstasn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.