Ondersoek ná akteur op stel sterf

Odwa Shweni (Foto: Verskaf)

Die polisie in KwaZulu-Natal sê hy ondersoek bewerings dat ʼn 39-jarige Suid-Afrikaanse akteur verlede week op die stel van ʼn fliek in die Drakensberge dood is omdat die nodige veiligheidsmaatreëls glo nié getref is nie.

Odwa Shweni (39), ʼn IT-spesialis en deeltydse akteur van Johannesburg, was glo besig met repetisies vir ʼn fliek toe hy Donderdag sy balans verloor en sowat 40 m ver by ʼn waterval in die Drakensberge na sy dood geval het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, sê die polisie dra kennis van bewerings dat daar nie genoegsame veiligheidsprotokolle op stel was nie. Volgens hom vorm dié bewerings deel van die polisieondersoek na die voorval. “Daar is nog geen duidelikheid oor hoe die voorval gebeur het nie. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen om vas te stel of iemand vir sy dood verantwoordelik gehou moet word,” sê hy.

Ali Rodolo, familiewoordvoerder en direkteur van Kakanyo Business Solutions waar Shweni gewerk het, het Maandag aan Maroela Media gesê die familie het ook geen duidelikheid rondom dié voorval wat Shweni se lewe geëis het nie.

Die Sterkspruit-waterval waar die voorval glo gebeur het (Foto: TripAdvisor)

“Die naam van die fliek waaraan hy gewerk het, is nog nie bekend gemaak nie omdat die familie nog nie met die rolprentspan in gesprek was nie,” sê hy.

Rodolo sê die verfilmingspan was reeds vir een week besig met die verfilming van die fliek toe Shweni dood is. “Daar is nog nie duidelikheid oor presies wat gebeur het nie. Al wat ons nou weet, is dat die rolprentspan besig was met ʼn repetisie toe hy per ongeluk gegly en geval het. Dis ʼn absolute fratsongeluk.”

Ondersoekspanne is oomblikke nadat die akteur geval het ontbied, maar die gebied was glo te ruig en dit was volgens Rodolo te gevaarlik om na Shweni te gaan soek. “Ondersoekspanne kon nie daarin slaag om by hom uit te kom nie omdat dit te gevaarlik was. ʼn Soektog is Donderdagaand afgelas en sy liggaam is Vrydagoggend net ná 10:00 uit die ruigtes gehaal. Hy was reeds dood.”

Rodolo sê die Shweni-familie het intussen privaatheid versoek. Shweni sal op 22 April in Queenstown in die Oos-Kaap begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nettie ·

Maroela Media, veiligheidsprotoKOLLE ….. regtig??? Die meervoud van protokol is …. PROTOKOL.

Sune van Heerden ·

Dagsê Nettie

Dankie vir jou navraag.
Die meervoud van “protokol” is inderdaad “protokolle” volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) en Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).
Mens kan selfs “protokols” gebruik wanneer jy spesifiek verwys na prosedures, reëls of etiket wat by diplomatieke, seremoniële of staatsgeleenthede geld.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Kaufman ·

Nettie, Afrikaans is n groeiende diverse taal. Moet asseblief nie op jou perd spring as mense nie jou spesifieke interpretasie of streek se konsensustaalreels volg nie.

B-man ·

Dis erg. Hoe val jy 40 m na jou dood? Het hy gesterf en toe geval?
Eerder: Akteur sterf/dood na hy 40 m val…

Wonder ·

‘n Professor het gesê’n taal is ‘n kommunikasie “tool.” En een kan op ‘n mooi manier vra/sê as daar dalk ‘n fout in die berig is. Sterkte aan sy familie. ‘n Mooi dag vir almal.

Hennie ·

Ai die taalpuriste darem!

Die gebruik van “…..na sy dood val” is korrek en word algemeen gebruik. Indien die akuut gebruik is op die a (ná) sou die argument “eers gesterf en toe geval” geldig gewees het.

Righard ·

En hier is ons almal bekommerd oor die korrekte gebruik van afrikaans. Nogals interest aangesien niemand eers verwys na die berig nie. Ja toemaar ek weet, ons lees elke dag van moord en dood slag dat dit nie eers meer wenkbroue lig nie.

James ·

Odwa Sheni. Ali Rodolo. Klink Nigeries. Miskien moet Nigerie maar die nodige stappe neem vir die Nigeriers in SA se veiligheid…..

James ·

Odwa Sheni. Ali Rodolo. Klink Nigeries. Miskien moet Nigerie maar die nodige stappe neem vir die Nigeriers in SA se veiligheid….. “Suid Afrikaanse” akteur? – NEE – ‘n Nigerier wat kom voordeel trek het uit die BEE wetgewing..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.