Ondersoek na ‘bisarre’ landing by OR Tambo

‘n Skermgreep uit die video wat wys hoe die ligte vliegtuig op die rybaan by die OR Tambo-lughawe land.

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) sê hy is steeds besig met sy ondersoek nadat ʼn ligte vliegtuig sowat twee weke gelede by die OR Tambo-lughawe – Suid-Afrika se besigste lughawe – ongeskeduleerd en boonop op ʼn rybaan geland het.

ʼn Video van die voorval is wyd versprei. Daarin kan gesien word hoe die vliegtuig, ʼn viersitplek RV-10, omstreeks 13:25 gevaarlik naby aan die enjins van ʼn straler land wat reeds op die rybaan is en gereed maak om op te styg.

“Ons is dankbaar dat hierdie nie ʼn noodlottige voorval was nie, maar ons beskou dit as bisar, kommerwekkend en uiters gevaarlik. Ons gaan geen steen onaangeraak laat om te verseker dat diegene wat hiervoor verantwoordelik is voor stok gekry word nie. Alle feite, bewyse, asook die verloop van gebeure en/of besluite deur diegene betrokke, gaan deeglik ondersoek word,” het Poppy Khoza, die direkteur van burgerlugvaart, gesê.

Die vliegtuig midde in die bohaai is ʼn laevlerk-, amateurgeboude, eenmotorige vliegtuig wat in ooreenstemming met die BLO se klassifikasie as eksperimenteel beskou word. Dit word grootliks vir ontspanning gebruik.

Die vliegtuig het by die nuwe Tempe-lughawe in die Vrystaat opgestyg. Luidens die voorlopige inligting was drie mense aan boord – twee passasiers en die vlieënier wat ʼn private vlieglisensie het, het die BLO in ʼn verklaring gesê.

Daar is vroeër bespiegel dat die vlieënier ʼn passasier na die internasionale lughawe geneem het, omdat dié persoon andersins glo laat vir ʼn kommersiële vlug sou wees. Die lugvaartgemeenskap het met afgryse op die voorval gereageer en ingrypende optrede geëis.

Daar was ook heelwat vrae oor hoe die vlieënier dit reggekry het om die lugruim by die OR Tambo-lughawe sonder ʼn vlugplan binne te gaan.

“Selfs al het die vliegtuig nie enige skade opgedoen nie en is geen beserings aan boord van die vliegtuig of op die grond aangemeld nie, is dit bitter vreemd dat die vlieënier op ʼn rybaan, pleks van ʼn aanloopbaan, geland het,” het Khoza gesê.

Rybane word gebruik wanneer ʼn vliegtuig ná of ván ʼn aanloopbaan beweeg.

“Daar is nog talle vrae wat beantwoord moet word sodat ons ʼn feitelike gevolgtrekking oor dié gevaarlike voorval kan maak. Dit moes nooit gebeur het nie en mag beslis nie wéér gebeur nie.

“Die optrede het groot veiligheidsgevolge, omdat slegs passasiers en personeel wat klaring of die nodige toestemming het, aan dié kant van die lughawe toegelaat word.

“Die ondersoek word as ʼn prioriteit beskou en moet so gou moontlik afgehandel word, omdat die voorval ʼn direkte uitwerking op lugvaartveiligheid en -sekuriteit in Suid-Afrika het,” het Khoza gesê.

“Suid-Afrika het ʼn voortreflike rekord vir lugvaartveiligheid en ons gaan nie toelaat dat enigeen die veiligheid en sekuriteit van passasiers of bemanningslede ondermyn nie. Ons gaan alles moontlik doen om ʼn herhaling van die voorval te voorkom.”

Dit is in dié stadium onduidelik of die betrokke vlieënier reeds in verband met die voorval ondervra is.

https://www.facebook.com/RealLiveSA/videos/463555887823102/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

47 Kommentare

jongste oudste gewildste
Riaan P

Kan jy nou meer…
En hulle bedoel seker …die vlieënier wat ‘n private vlieglisense ‘gehad’ het…
;-)

Ondersoek

Twee weke gelede? Vra tog maar vir die vlienier man. Hulle wonder hoe dit moontlik is dat so iets kon gebeur. Dit is regtig lagwekkend. Huhh?

Tino

Dis nou van gil en spring, eks seker die knaap het aan die meerderheid van die reels voldoen. Die enigste deel wat vreemd was, was die vooraf geliaseerde vlugpplan in my opinie. Die feit dat ‘n klein vliegtuig eerder op die rybaan geland het is die veiligste keuse omrede hy uit die pad van die stralers op die aanloopbaan gebly het. Maar dit gaan meer oor dis nou ‘n oomblik waar ons kan wys ons doen iets teenoor die gewone en alledaagse niks nie. Selfde soos waneer die metro die hele hoofweg toemaak waneer daar ‘n bumper bashing in die… Lees meer »

Amanda

Dringende ondersoeke? Wat weet ons nou al van die Guptas en hulle landing op Waterkloof?

Realisties

Ek neem aan die Guptas is terug in Suid Afrika :)