Ondersoek na brand by skool vir dowes afgehandel

Die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes in Leeudoringstad (Augustus 2015) Foto: Twitter

Die Menseregtekommissie (MRK) het sy ondersoek na die dodelike brand twee jaar gelede by die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes in Leeudoringstad afgehandel en sy bevindinge bekend gemaak.

Drie leerders, onderskeidelik 16, 17 en 18 jaar oud, is in dié brand dood toe dit in die vroeë oggendure van 24 Augustus 2015 in die koshuis uitgebreek het. Altesaam 53 mense is beseer en behandel vir rookinaseming en ander beserings wat hulle opgedoen het toe hulle van die eerste verdieping na buite gespring het.

Gail Smith, woordvoerder van die kommissie, het Woensdag gesê die MRK se ondersoek het bevind die skool, die provinsiale departement van onderwys, dié departement se hoof en LUR asook die minister van basiese onderwys, het versuim om aan veiligheidswetgewing en beleide te voldoen.

“Die kommissie het verder bevind die bogenoemde rolspelers het nie die leerders se reg op menswaardigheid en reg om te lewe beskerm nie,” het Smith gesê.

“Die respondente het versuim om aan die minimum veiligheids- en brandstandaarde op die skoolterrein te voldoen en nie voldoen aan wetgewing en beleide vir redelike verblyf vir leerders met gestemdhede nie.”

Die MRK het ook bevind positiewe stappe is nie gedoen om die leerders te beskerm nie. “Dit is vererger deur die deure van die residensiële geriewe van buite te sluit.”

Die kommissie het gelas dat die departementshoof ʼn volledige oudit van stapel stuur om die beheermaatreëls, opvoedingsbehoeftes en risiko’s van leerders by alle skole vir leerders met spesiale behoeftes te bepaal.

Die departementshoof moet ook ʼn tydgebonde plan van aksie ontwikkel om te verseker dat skole in Noordwes ten volle aan veiligheidsmaatreëls voldoen. Dit sluit in noodhulp en die inwerkingstelling van noodgeval-oefeninge vir leerders met spesiale behoeftes.

Die MRK het voorgestel dat die Suid-Afrikaanse raad vir opvoeders (Saro) binne drie maande tugstappe instel teen werkers en beamptes wat verantwoordelik was vir veiligheid by die skool.

Die kommissie sal ook met die polisie in gesprek tree om te versoek dat strafregtelike stappe ingestel word teen diegene wat in hul ondersoek geïmpliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Weer n tragedie met gestremdes waar die kapasiteitsgestremde staat by betrokke is.
Tipies.

Hannelie ·

Eish! Moet die Staat vir als die skuld kry? Mense moet begin name noem, die werkers ensovoorts, jy kan nie almal wat onder die staat werk die skuld gee nie.

ontevrede leser ·

waarom ???? word die deure van buite gesluit ??????? gestremdes is nie veroordeeldes nie, hulle is ook MENSE

Ada ·

Stem saam met Ontevrede Leser.
Het nog nooit van so-iets gehoor waar deure van buite gesluit word nie – en die kinders kan JUIS nie hoor nie. Waarheen kon hulle vlug?!!!!
Kla hulle van moord aan!!
Dit is totaal onaanvaarbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.