Ondersoek na brand by skool vir dowes byna afgehandel

Die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes in ligte laaie. Foto: Twitter

Die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes in ligte laaie. Foto: Twitter

Die Menseregtekommissie (MRK) het Vrydag gesê sy ondersoek na die brand by die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes in Leeudoringstad in Augustus verlede jaar, is byna voltooi. Drie leerlinge is in dié brand dood.

Isaac Mangena, woordvoerder van die kommissie, het gesê die ondersoek is van stapel gestuur om onder meer te bepaal of die brandwaarskuwingstelsel by die skool in werking was en of enige skoolbeampte aan diens was ten tyde van die brand.

Maroela Media het vroeër berig drie meisies is dood en 53 ander beseer toe die brand in die vroeë oggendure van 24 Augustus uitgebreek het.

“Die kommissie is bewus dat die SAPD ook sy eie ondersoek doen na die oorsaak van die leerders se dood en die MRK verwelkom hierdie ondersoek. Ons ondersoek is byna afgehandel en ons sal binnekort die bevindinge daarvan bekendmaak,” het Mangena gesê.

Volgens Mangena word bewerings van ʼn personeeltekort by die Meerhof spesiale skool in Hartbeespoort naby Brits ook ondersoek. “Ons kry nie by Meerhof die samewerking wat ons nodig het nie, wat baie teleurstellend is. Ons is daarom besig om dagvaardings voor te berei om die departement te dwing om sy samewerking te gee,” het hy gesê.

“As daar ʼn personeeltekort by die skool is, dink net wat sal gebeur as iets gebeur soos wat by die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes gebeur het. Dit sal ʼn tragedie wees.”

Hy het gesê die MRK het die mandaat om die regte van persone met gestremdhede te bevorder en te beskerm. “Die kommissie glo meer moet gedoen word om te verseker dat kinders met gestremdhede dwarsoor die land nie net gehalte onderrig ontvang nie, maar dat hul veiligheid ook gewaarborg is.”

Die Noordwes-onderwysdepartement was nie beskikbaar vir kommentaar oor die beweerde personeeltekort by Meerhof nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk T ·

Ek sal graag die inhoud van daardie verslag wil sien. Dit is bv die eerste verskoning wanneer ‘n krisis by so ‘n staats instansie ontstaan waar kinders versorg word. (personeel tekort.) Sulke kinders moet 24 uur per dag onder toesig wees en versorg word. Dit is eerder ‘n geval van personeel wat nie hul diensvoorwaardes nakom nie. Toesighouers wat nie opgewasse is om met personeel te werk nie, of die ander tameletjie, indien dissiplinêre prosedures teen ‘n beampte ingestel word, word so ‘n beampte deur sy Unie verteenwoordiger beskerm. Dan moet daar gekyk word na ingestalleerde brand alarms. was dit foutief of was daar net nooit instandhouding gedoen nie. Was daar ‘n noodplan? Waar was die personeel? Het hulle geslaap aan diens? Aangesien ek 32 jaar betrokke was by ‘n soortgelyke instansie, kan ek getuig van die afname van goeie verantwoordelike bestuur die afgelope 15 jaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.