Ondersoek na brande in Noord-Kaap gevra

’n Reusebrand het onlangs sowat 130 000 ha in Daniëlskuil verwoes. (Foto: Verskaf / Corné Barkhuizen)

Verwoestende veldbrande het oor die afgelope twee maande massiewe skade vir landelike gemeenskappe in die Noord-Kaap berokken.

Nou vra die Vryheidsfront Plus dat menige bewerings van brandstigting deeglik ondersoek moet word.

Maroela Media het vroeër berig dat reuseveldbrande minstens 410 000 ha in groot gedeeltes van die provinsie vernietig het, met die Kimberley- en Hopetown-omgewing as die jongste slagoffers.

Die oorsake van die onderskeie brande is nog nie bekend nie, hoewel verskeie bewerings van brandstigting in elke geval gemaak is.

“Vir inwoners van die gebied is die vraag of hierdie bloot die gevolg is van geil plantegroei wat deur die winter uitgedroog het en sterk winde; en of gemenespel betrokke is,” sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-parlementslid en provinsiale leier in die Noord-Kaap.

“Grondbesit is ’n plofbare saak in vandag se politieke konteks. Die vraag word openlik gevra of hierdie ’n poging is om mense van hul grond te dryf.”

Boshoff meen hoewel landbougemeenskappe –  en selfs ander mense wat glad nie boer nie – goed georganiseerd is, is “misdadige elemente” deeglik daarvan bewus dat dit haas onmoontlik is om die duisende kilometer veld wat aan paaie grens, te bewaak.

“Daarom is dit noodsaaklik dat die polisie alle beskikbare bronne gebruik om vas te stel wat besig is om te gebeur.

“Dit sluit inligting van informante in, maar ook beeldmateriaal van private veiligheidstrukture op plase.”

Kimberley-brande geblus

Die reuseveldbrande wat sedert Saterdag in die Kimberley-omgewing in die Noord-Kaap woed, het reeds na raming sowat 100 000 ha verwoes. (Foto: Facebook / Emer-G-Med)

Die Sol Plaatjie-munisipaliteit het intussen bevestig dat brande om Kimberley suksesvol geblus is. Massiewe vure woed sedert Saterdag tussen dié stad en Hopetown.

“Sterk winde was ons egter nie genadig nie, met die gevolg dat die brande na die Boshof- en Griekwastad-omgewing versprei het,” sê Sello Matsie, woordvoerder vir die munisipaliteit.

Boere in Griekwastad het reeds twee vliegtuie gereed om met die bestryding van brande te help.

“Ons noodspanne is ook saam met ander rolspelers na geraakte gebiede ontbied, terwyl die opvlam van veldbrande in ander gebiede gemoniteer word,” sê Matsie.

Die munisipaliteit het ook gewaarsku dat motoriste op die uitkyk vir loslopende diere moet wees aangesien menige boere hulle heinings moes knip sodat hul diere van die vlamme kan vlug.

“Sommige paaie is ook as voorsorgmaatreël gesluit en ons doen ʼn beroep om motoriste om hul samewerking te gee.”

Matsie sê ’n volledige evaluering van die skade wat deur die brande aangerig is, is nog nie gedoen nie.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap het egter vroeër aan Maroela Media gesê dat voorlopige inligting op die verwoesting van sowat 100 000 ha in die Kimberley- en Hopetown-omgewing dui.

Dit is ook nog nie duidelik hoeveel vee in die slag gebly het nie.

“Die dierebeskermingsvereniging en die nasionale vereniging vir die voorkoming van dieremishandeling is reeds ontbied om te bepaal watter diere nog behandel of van kant gemaak moet word.

“Dit is ʼn sterk vermaning dat mense dit te alle tye moet vermy om onnodige veldbrande te veroorsaak.

Die oorsaak van hierdie brande word egter nog ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Die anc terroriste sit agter alles ondersoek is nie nodig nie. Kry die gemeenskap agter julle en beloon die invormante.

Di ·

EFF soek mos die boere van die plase af – Begin hier met die ondersoek.

Toy ·

Die wat so moedswillig veldbrande stig, moet net weet as daar nie kos is gaan hulle ook hongerly. Veldbrande het ‘n kettingreaksie as dit by voedsel kom vir mens en dier. Moenie ‘n idoot wees en dink jy spite net sekere mense nie, “spitefull people spite themself”

Ria ·

Ek het n suspisie dat dit wel brandstigting is. Ons het nog nêrens in die streek donderstorms gehad wat dit kon veroorsaak nie. Die idioot wat tot so iets in staat is, verdien n baie groot straf

Anel ·

Verskroeide aarde beleid word maar net hier toe gepas. Niks om verder te ondersoek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.