Ondersoek na chemiese storting tydens KZN-oproer amper klaar

Giftige stowwe het in die see beland nadat die aanleg tydens die oproer aan die brand gesteek is. (Foto: Carol Booth/Facebook)

Die verslag oor die reuse- chemiese storting by ʼn aanleg van United Phosphorus Limited (UPL) in Cornubia in KwaZulu-Natal sal hopelik teen die einde van September bekend gemaak kan word.

Duisende visse en ander seediere het langs die kus van Umdloti en Umhlanga gevrek en begin uitspoel nadat giftige stowwe in die see beland het toe plunderaars onder meer die UPL-aanleg in Durban aan die brand gesteek het.

Groot hoeveelhede onkruiddoders, swamdoders en plaagdoders was in die pakhuis toe dit geteiken is.

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, het Woensdag aan die parlement gesê geen nuwe besoedeling het intussen plaasgevind nie. As voorsorgmaatreël is agt vlak en agt diep boorgate egter gesink om te verseker daar is geen besoedeling van dieper akwifere nie.

ʼn Veelparty-ondersoekspan wat saamgestel is om die storting te ondersoek, se verslag daaroor is nou byna afgehandel. Daar word veral gewag op bevindings oor die regulatoriese omgewing waarin die pakhuis sake gedoen het.

“Die verslag sal stappe uitstippel wat die regering moet doen oor enige kwessies van nievoldoening, maar ook om proaktiewe maatreëls in te stel om regulering in die sektor te bedryf,” sê Creecy.

Die minister het benadruk dat dit belangrik is dat die regering deursigtig in sy benadering tot ʼn voorval van dié aard is en steun ʼn aanbeveling deur die betrokke portefeuljekomitee dat ʼn forum, bestaande uit alle rolspelers in die bedryf, op die been gebring word.

Gegewe die omvang van die voorval en die talle regulatoriese owerhede betrokke, het die regering ná die storting op drie prioriteite gefokus.

Die eerste was om te verseker dat verdere omgewing- en gesondheidsgevare beperk word, die tweede was om ʼn oorsigrol te speel in die assessering-, skoonmaak- en herstelproses, terwyl die derde prioriteit die ondersoek na die voorval is.

Creecy sê die bekendmaking van die bevindings sal openbare vertroue in die proses bevorder wat gevolg word om die storting te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Wie se skuld was dit Greasy ? Wat gaan jy doen om die skade te herstel Greasy ?

Ria ·

Het ons voldoende wette om sulke kriminele dade te verantwoord? Dis n sonde teen die natuur wat ons duur te staan gaan kom

Tiptol ·

Die regering hou net aan wette maak maar ‘n wet beteken niks as dit nie deurgevoer word nie.

Esme ·

Marius, dit is weer niemand se skuld nie. Sop, voordat ons weet is Greasy ook in die hospitaal. As jy betaal word en droogmaak, gaan jy hospitaal toe. Andersins moet jy maar staak – danksy ons Regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.