Ondersoek na DA-raadslid se Israel-opmerking voltooi

Mpho Phalatse. Foto: Twitter

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Mpho Phalatse, DA-raadslid en lid van die Johannesburgse burgemeesterskomitee vir gesondheid, weer in haar pos aangestel.

Phalatse is vroeër in Junie geskors nadat sy namens die stad haar ondersteuning vir Israel uitgespreek het.

Mashaba het vroeg Donderdagoggend in ʼn verklaring gesê Phalatse is vanaf 28 Junie weer heraangestel met sekere voorwaardes ná ʼn ondersoek.

“Die multiparty-regering het sy assessering en skakeling rakende die uitlatings wat deur Phalatse gemaak is op 10 Junie voltooi,” lui die verklaring.

Phalatse, wat reeds in die openbaar om verskoning gevra het vir haar opmerkings, sal glo in die openbaar betig word vir die uitlatings wat sy namens die stad Johannesburg gemaak het.

Mashaba het gesê hy het in sy hoedanigheid as burgemeester met Phalatse gepraat en is oortuig dat sy die uitwerking van haar uitlatings betreur.

Phalatse het glo op Twitter gesê: “I would like to declare that I am a friend of Israel, and the city of Johannesburg is a friend of Israel! Shalom Shalom!” [sic]

Mashaba het bygevoeg hoewel hy Phalatse se reg bevestig om persoonlike sienswyses te huldig, is hy teleurgesteld dat sy namens die stad gepraat het “op ʼn manier wat nie die sensitiwiteit en kompleksiteit van die kwessie soos dit in ons stad en oor die hele wêreld bestaan, vasvang nie”.

Volgens hom het die ondersoek na die aangeleentheid bevind dat Phalatse se uitlatings nie die DA se beleidsposisie oor sy toewyding aan ʼn tweestaat-oplossing waarin ʼn voorspoedige Israel in vrede saam met ʼn voorspoedige Palestina voortbestaan, oortree het nie.

Die ondersoek het ook bevind dat sy nié goeie oordeel aan die dag gelê het toe sy die uitlatings gemaak het nie en dat sy betig moet word oor haar opmerkings namens die stad.

Mashaba het gesê naas haar onlangse openbare verskoning op 26 Junie, sal daar ook van haar verwag word om ʼn werksessie van ʼn relevante liggaam by te woon om sodoende die kompleksiteit van die kwessies in die Midde-Ooste te begryp.

“Ek wil graag inwoners van die stad Johannesburg asook lede van die Joodse en Moslemgemeenskappe in Suid-Afrika verseker dat ons toegewyd bly aan die idee van ʼn tweestaat-oplossing in die Midde-Ooste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Heinrich ·

Ai, waar is die dae toe ‘n politikus ‘n politieke opinie kom uitspreek. Hierdie hele affêre is ‘n grap. Ja sy het uit haar plek uit gepraat. Volg die nodige dissiplinêre prosedures hiervoor, maar om haar sò uit te haal omdat sy anders dink oor ‘n saak is bietjie oordryf. Geskiedenis het altyd twee kante en die waarheid moet aan die lig kom hoe meer daaroor gepraat word.

Koos de Meyer. ·

Wat het van die kamtige vryheid van spraak geword. Dubbel standaarde in ons siek land. Ruggraatloos is eintlik nie die woord nie.

Swannie ·

Nou ja toe – `n Tweestaat – oplossing is niks anders as Apartheid nie – Hoe dan nou ??

En die DA is `n voorstaander daarvan ?

Callie ·

Alles na sy eintlik reg was. Israel is soos deur Trump beskou, God se volk en Jerusalem is hulle stad. Dankie vir haar eerste stellings. Jammer sy swig onder groepsdruk.

Herman Goosen ·

Dankie tog ek het nie iets met hulle uit te waai nie. So papbroekig om tog net nie polities onkorrek te wees nie. Is daar ‘n verskil tussen hulle en die regerende party? Ek kan nie juis dit raaksien nie.

Jan Brits ·

Die DA is besig om homself te veel na die aan die ANC se kant te plaas. Dit regverdig die naam ANC-LITE.

kat ·

Man die mide ooste is n klomp teroruste en kla isreal verdedig net hulle land

Henk ·

Hoe siek is ons land nie!!?? Jy mag niks pro duits of pro israel se nie, maar jy mag terroriste, terroris organisasies en kriminele en hulle bendes ondersteun en aanpor!?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.