Ondersoek na ds. Liezel-moord duur voort

Ds. Liezel de Jager is in Oktober 2021 vermoor. (Foto: Facebook)

Action Society was Vrydagoggend by die landdroshof in Amanzimtoti waar die organisasie se stryd vir geregtigheid vir ds. Liezel de Jager onverpoosd voortduur.

“Ons is dankbaar dat vordering in die ondersoek gemaak word, ondanks moeilike omstandighede,” sê Juanita du Preez, woordvoerder van Action Society. “Die saak is tot 10 Junie uitgestel vir verdere ondersoek. Dit sluit in om Werner de Jager se sterftesertifikaat te bekom.”

Maroela Media het vroeër berig die beskuldigde in die saak, Werner de Jager, is op 15 April in aanhouding dood, byna twee en ʼn half jaar ná Liezel se moord. Hy het vermoedelik sy eie lewe geneem in die Westville-gevangenis, waar hy verhoorafwagtend was.

Ondanks dié struikelblok sal Action Society met hul stryd om geregtigheid voortgaan, het Du Preez gesê. “Ons sal nie toelaat dat Liezel se saak saam met Werner sterf nie. Ons sal vir haar familie bly baklei totdat hulle die antwoorde kry waarvoor hulle al sedert 2021 wag.”

Dit het altesaam 863 dae geneem vir De Jager om in hegtenis geneem te word ná Liezel se moord op 13 Oktober 2021 by die egpaar se woning in Amanzimtoti. Liezel was ten tye van haar moord verbonde aan die NG Kerk Suidkus-gemeente.

Werner de Jager, Liezel de Jager, moord, verhoor, hof, Amanzimtoti, hof, verhoor, borgtogaansoek, KwaZulu-Natal

Werner de Jager (45) tydens een van sy laaste verskynings in die landdroshof in Amanzimtoti. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

De Jager is op 23 November verlede jaar in hegtenis geneem vir sy beweerde aandeel in die moord.

Tydens sy uitgerekte borgtogaansoek het die hof gehoor alle vingers wys na hom en dat hy die moord op sy vrou vooraf haarfyn beplan het. Volgens die staat het die egpaar se huwelik verbrokkel. De Jager het glo verskeie lewenspolisse uitgeneem op Liezel en ook haar testament kort voor haar moord só gewysig dat hy alleen uit haar boedel sou baat indien sy sou sterf.

De Jager het glo ook tydens sy in inhegtenisneming in groot detail gebieg en om vergifnis gevra het vir Liezel se moord. Hy het dit tydens sy borgtogaansoek ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.