Ondersoek ná fabriek brand

Argieffoto. (Foto: Darren Pateman, AP)

ʼn Ondersoek volg nadat vlamme aan die einde van Julie ʼn plastiekfabriek in Pietermaritzburg verswelg het. Die brand het op munisipale grond langs die fabriek uitgebreek.

Luidens ʼn verklaring deur die KwaZulu-Natalse departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake het die brand naby die New England-vullishoop uitgebreek en die fabriek, wat vol plastiek en toerusting was, afgebrand.

“Brandbestryders, omgewingspesialiste en ander kenners was sedert 15:30 op die toneel om die brand te hanteer. Ek het ʼn formele verslag aangevra en sal verseker dat wie ook al verantwoordelik is vir die erge lugbesoedeling weens die brand  aan die pen ry,” het Nomusa Dube-Ncube, LUR van die betrokke departement, gesê.

Maroela Media het destyds berig dat meer as 70 brandbestryders en 10 brandweerwaens ontplooi is om die brand te blus. Die Msunduzi-munisipaliteit se eenheid vir omgewingsgesondheid het verlede Dinsdag die mense wat naby die perseel woon en sukkel met hul gesondheid, gewaarsku om hul huise te ontruim. ʼn Deel van die N3-snelweg, digby die New England-pad, is Vrydag gesluit weens dik rookwolke wat toe nog oor die snelweg gehang het.

Volgens Dube-Ncube toon navorsing daarop dat langtermynblootstelling aan besoedelende stowwe  soos stikstofdioksied en sulfaatdioksied longfunksie kan laat afneem en asemhalingsiektes kan veroorsaak.

Intussen het ʼn brand by ʼn hardewarewinkel in Pretoria die afgelope naweek opslae gemaak. Maroela Media het berig die brand het die verkopeafdeling van Cosave Powerbuild & Wholesalers in Kirkney heeltemal verwoes, terwyl skade ook aan die administrasiekantore aangerig is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Nomusa Dube-Ncube, begin by die begin. Hoekom het die brand by die vullis terein uitgebreek? DIS die oorsaak en dan kan jy worry oor die lug besoedeling.
Ons weet almal dat vullis tereine al lank al nie meer bestuur word soos dit moet nie, en met die 100de mense wat daar skrop vir oorlewing, waarvoor julle as regering verantwoordelik is, is dit ‘n ramp wat wag om te gebeur.
Jy wil die blaam, op ‘n tipiese ANC manier, verskuif.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.