Ondersoek na familielid wat baat by Eskom-kontrakte

Argieffoto: GCIS

Die Eskom-raad het vandeesweek gesê hy sal ʼn forensiese ondersoek van stapel stuur na bewerings dat Matshela Koko, waarnemende uitvoerende hoof van die kragvoorsiener, na bewering R1 miljard se tenders aan ʼn maatskappy, waarvan sy stiefdogter ʼn direkteur is, toegeken het.

Eskom het in ʼn verklaring gesê die raad het Dinsdag op sy vergadering besluit om die bewerings te ondersoek aangesien dit ʼn negatiewe impak op Eskom se maatskaplike aansien en handelsmerk het, asook op die hele leierskap.

Die Sunday Times het vroeër berig Koketso Choma (26), Koko se stiefdogter, het net drie jaar gelede gegradueer, maar is verlede jaar as ʼn direkteur by Impulse International aangestel. Koko het sedertdien glo agt winsgewende kontrakte ter waarde van R1 miljard aan die maatskappy toegeken toe hy nog afdelingshoof by Eskom was, voordat hy as uitvoerende hoof aangestel is.

Volgens die koerant het Koko beweer, hoewel sy stiefdogter by hom inwoon, hy het eers onlangs bewus geword van die feit dat sy ʼn direkteur van Impulse is.

Ben Ngubane, voorsitter van Eskom se raad, het in ʼn verklaring gesê Eskom het ʼn grondwetlike mandaat om die bewerings te ondersoek en agter die kap van die byl te kom. Hy het gesê Cliffe Dekker Hofmeyr is opdrag gegee om die ondersoek te behartig, onder meer om vas te stel of daar ʼn potensiële botsing van belange ter sprake is met Koko se stiefdogter wat ʼn aandeelhouer by Impulse International is.

“Die doel van die ondersoek is om vas te stel of die bewerings bevestig kan word of deur bewyse ondersteun kan word,” het Ngubane gesê. Hy het bygevoeg dat Cliffe Dekker Hofmeyr ʼn onafhanklike ouditeursfirma sal aanstel om te help met die forensiese ondersoek.

Ngubane het gesê die raad sal nie inmeng in die omvang van die ondersoek nie en sal nie huiwer om die ondersoekaanbevelings te implementeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Dink Koko ons moet hom glo, korrupsie vier hoogty, woon saam met hom onder een dak, hy moet die storie vir die hoenders gaan vertel, hulle sal hom glo.

zoom zoom ·

En al wat hy gaan se is ” it wasn’t me I wasn’t I didn’t do it” en dan is almal onskuldig.

MANIE ·

Bestaan daar nie meer so iets soos n eerlike bestuurder by staatsinstellings. Dit lyk of hulle met mekaar meeding wie kan die korrupste en skelm wees. Is die sogenaamde struggle geveg om daardie handjies in die kasregister te kry???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.