Ondersoek na foto’s van drank in polisiemotor duur voort

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) het nog nie die skuldige polisiebeampte geëien nadat foto’s van ʼn vrou met drank in haar hand in ʼn amptelike EMPD-motor op sosiale media versprei is nie.

Maroela Media het vroeër berig die foto’s van ʼn vrou wat met verskeie soorte drankbottels in haar hand in die bestuurdersitplek van die polisiemotor sit, het opslae op sosiale media gemaak. Talle gebruikers het geëis dat die betrokke polisiebeampte vir die foto’s verantwoordelik gehou word en het gesê die foto’s stel die EMPD in ʼn swak lig.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die EMPD, het Maandag aan Maroela Media gesê daar is nog nie vasgestel watter polisiebeampte in daardie stadium vir die motor verantwoordelik was nie. “Die integriteit-en-standaardeenheid ondersoek die voorval, maar daar is nog geen beduidende ontwikkeling in die saak nie,” het hy gesê.

Die EMPD het reeds vasgestel die vrou en die man in die foto’s is gewone burgers wat die EMPD-voertuig by ʼn motorwassery gesien en ingeglip het om die foto’s te neem.

Volgens Kgasago probeer die EMPD nog om die vrou op te spoor omdat hulle glo sy sal die verantwoordelike polisiebeampte kan eien. “Sodra daar enige verwikkelinge is, sal dit aan die publiek bekendgemaak word,” het hy gesê.

Kgasago kon nie bevestig of daar regstappe teen die vrou gedoen sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Waarom los die bestuurder dan n ampsmotor onbewaak by n motorwassery indien dit wel die geval is dat die drinker n gewone burger is. Miskien was die bestuurder van die voertuig honger en het te voet na die naaste Kentucky gestap.

Janine ·

Watse twak! Die ‘beampte’ staan aan die ander kant van die voertuig in die foto. Is hulle blind of wil hulle net nie sien nie? Tsk.

pop ·

Ons is seker in hulle oe vetplante Janine. Al kommentaar wat ek verder het is n yslike kragwoord.

Theresa ·

Ja dit duur voort – totdat dit doodloop. Dink seker die publiek is ape.

Francois ·

Gaan stop bietjie een middag by die Shell Utra City Noord op die N1, net na Samrand, so 3nm se kant en julle oë sal uitval! Daar sit die mense openelik en suip soos visse in hul motors. Gee eintlik die bottels drank so aan na die ander. As hulle dan goed gesuip is trek hulle daar weg in so 3 tot 4 motors. Wil my voorkom of hul op pad Polokwane toe is. Maar drink en bestuur sal hulle en word nooit uitgevang. Tot nou die dag het Metro cops daar gestop en NIKS aan die saak gedoen nie.

George ·

Die ondersoek klink vir my ook soos ‘n poging waar daar gehoop word dat dit niks sal oplewer. Eg NSA.

tina ·

Rerig!!! Klink eerder na ‘n toesmeerdery.(partners in crime).
1. Sekerlik word voertuie uitgeboek na die betrokke offisier wat ‘n MAGSNOMMER het.
2. Offisiere wat daardie TYD AAN DIENS is en in beheer geplaas is van die voertuig, is verantwoordelik daarvoor.
3. Klink eerder of die offisiere elders was waar hul nie moes wees en nou is die EMPD in ‘n verleentheid.
Nee wat EMPD jul redenasie werk nie eers vir ‘n laerskoolkind nie. Hou op om te dink jul kan met so ‘n onlogiese antwoord kom.
Julle laat julle self veragtelik en onbekwaam lyk (en in jul werk?) in die oe van die publiek.Kry asseblief ‘n lewe en laat hierdie Gauteng provinsie weer respek vir jul kry.

CHRISTA ·

Ekurhuleni Metropolisie stel nie belang in die toepassing van wet en orde nie – hulle is net daar vir die salaris en gratis vervoer!! Ek meld telke male probleme op ons paaie by hulle aan, maar hulle trek net hulle skouers op. Gewoonlik is hulle ekskuus: IT’S NOT MY AREA!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.