Ondersoek ná jong pa se skietdood

Ronaldo en Biané by hul pa se graf.

Op wat op 20 Januarie Gerhard Coetzer se 31ste verjaardag sou wees, het sy vrou en twee jong kinders by sy graf in Pretoria ballonne opgeblaas, ʼn oliebol geëet en ʼn koeldrank gedrink.

Bianca Coetzer sê haar dogtertjie Biané is nou drie, maar was nog net ʼn baba toe haar pa in April 2018 dood is. Klein Ronaldo, wat vanjaar ses word, mis sy pa egter geweldig en kry boonop steeds nagmerries oor Gerhard se skietdood.

ʼn Geregtelike doodsondersoek sal nou, amper drie jaar ná sy dood, begin word.

Gerhard, toe 29 jaar oud, is destyds vermoedelik per ongeluk doodgeskiet toe die gesin by ʼn familielid in Middelburg, Mpumalanga, gekuier het. Op daardie noodlottige dag was Bianca by die egpaar se kinders langs die swembad toe ʼn skoot skielik klap.

Bianca vertel die familielid het op dié dag met sy vuurwapen, in ʼn holster aan sy sy, bly spog en gesê “kyk my gun”. Sy sê toe die eerste skoot klap en die familielid met sy vuurwapen in die hand staan, het sy en Gerhard vir mekaar gekyk. Hy het net sy kop geskud.

Sy het weggedraai om weer aandag aan die kinders by die swembad te gee, toe ʼn tweede skoot volgens haar klap. Gerhard het sy hand voor sy mond gehou en bloed het daaruit begin stroom.

“Hy het ʼn paar treë op die gras gegee en toe inmekaargesak,” sê Bianca.

Gerhard Coetzer.

Bianca sê sy het vergeefs gepleit dat iemand ʼn ambulans ontbied. “Toe die ambulans uiteindelik kom, was hy klaar weg. Ek het so mooi gevra…”

Bianca sê die familielid het haar dadelik aangesê om nie na Gerhard te gaan waar hy op die grasperk gelê het nie en het gesê hy sal na haar en haar kinders omsien as sy nie sê wat regtig gebeur het nie, maar aanvoer dat rowers vir Gerhard geskiet het.

Sy sê sy het nie dadelik vir die polisie gesê wat gebeur het nie en sy en die kinders is terug na Pretoria waar hulle woon. Sy het egter die Maandag ná die voorval ʼn verklaring by die polisie afgelê waarin sy haar weergawe van die gebeure gegee het.

Bianca sê volgens haar is niemand wat in daardie stadium by die huis was, vir kruitstof getoets nie.

“My seuntjie kry nou nog nagmerries oor wat gebeur het. Hy het alles gesien en hy weet presies wie dit was,” sê sy.

Bianca sê sy het glad nie meer kontak met die betrokke familielid nie. “Dis seker lelik, maar ek haat hom. Ek wil niks met hom te doen hê nie; ek hê hy moet sy straf kry.

“Hy het alles van my weggeneem.”

Bianca sê Gerhard was haar eerste en grootste liefde. Hulle was drie jaar getroud toe hy dood is, maar was ʼn paartjie vandat hulle 15 jaar oud was.

Om op die hoogte te bly van die polisie se vordering met die ondersoek na die gebeure, was vir Bianca nog ʼn nagmerrie. Sy sê haar vrae is bitter selde beantwoord en ʼn beampte het haar glo later aangesê om nie meer uit haar eie navraag te doen nie en dat die polisie haar sal laat weet indien daar enige vordering met die saak is.

Die burgerregtewaghond AfriForum het die afgelope week gesê ʼn lid van die publiek het die saak onder sy privaatvervolgingseenheid se aandag gebring en dié het daarna navraag by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor die kwessie gedoen.

Adv. Phyllis Vorster, verbonde aan die eenheid, sê die aanklaer het die saak daarna na die Direkteur van Openbare Vervolging in Mpumalanga verwys en dié het gelas dat ʼn geregtelike doodsondersoek na Gerhard se dood gedoen moet word.

In so ʼn ondersoek moet ʼn landdros onder meer besluit of Gerhard se dood veroorsaak is deur ʼn misdaad wat deur iemand anders gepleeg is.

Maroela Media het ʼn navraag aan die NVG in Mpumalanga oor dié saak gerig. Monica Nyuswa, woordvoerder, sê ʼn datum vir die ondersoek moet nog vasgestel word.

Bianca sê al waarvoor sy hoop is dat geregtigheid eindelik sal geskied.

“Ek sukkel om die gebeure te verwerk, maar ek moet seker maar aangaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Abraham

“Sy sê sy het nie dadelik vir die polisie gesê wat gebeur het nie en sy en die kinders is terug na Pretoria waar hulle woon. Sy het egter die Maandag ná die voorval ʼn verklaring by die polisie afgelê waarin sy haar weergawe van die gebeure gegee het.”
Ek verstaan nie hoekom sy nie dadelik polisie toe is nie? En hoekom se die familie lid sy moet stilbly en se dit was rowers wat hom geskiet het??

Misky

Dis baie swak en na 3 jaar van vrae en onsekerheid moet hulle nog “`n datum vasstel vir ondersoek”…… Pateties man en ek sou daai ondersoekbeampte dag en nag bel tot hy aandag aan die saak gee. Hy sou dit doen net om van my ontslae te raak en van sy nek te kry. Sterkte Bianca

Maggies

Ek verstaan in hiérdie berig dat die dame nog by die betrokke familielid se huis was. Dit is vanself sprekend dat sy bang was vir die man en sy familie. Daarom het sy geswyg.
Toe sy egter die Maandag haar kant van die saak rapporteer, moes daardie polisie onmiddellik ‘n forensiese eenheid stuur om die man /mense te toets om te sien wie kruitstof aan sy hand het. Ek is seker daar sou selfs na ‘n paar dae nog tekens wees.
Weereens het van die polisie diens nie hul werk gedoen nie.
Ek hoop en bid dat geregtigheid sal seevier.

ES

Daar moes tog ‘n ordentlike ondersoek gewees het. Swak polisiewerk want hulle moes dadelik gaan ondersoek instel het nadat sy haar weergawe gegee het. Hulle moes sy pistool dan ook by hom afgevat het en vir ballistiese toetse gestuur het. Ek dink maar net, as iemand my gade doodgeskiet het, sou ek histeries gewees het en dadelik vir die polisie vertel het wat gebeur het. Iets in haar weergawe bring nie twee en twee lekker bymekaar nie. Dis die rede hoekom haar gesig ook nie gewys word nie, sy kan moontlik van dwarsbooming van die gereg aangekla word omdat sy… Lees meer »

Casper

Die vuurwapen was in ‘n holster aan die familielid se sy en dit is waar ‘n vuurwapen moet wees as jy dit nie gebruik uit noodweer nie.Een Sloot skiet en dan die tweede waarmee jy iemand raak en doodgeskiet.Hoekom sal hy na hulle omsien as sy niks sê nie.Nalatige bantering van vuurwapen.Strafbare manslag. Sy het weggedraai om weer aandag aan die kinders te gee toe die tweede skoot klap.Was dit net hulle 3 en die kinders.Hoe weet sy Gerhard is nie doelbewus doodgeskiet nie.