Ondersoek na Limpopo-departement verwelkom

(Foto: Limpopo- departement van gesondheid/Facebook)

Die VF Plus verwelkom die proklamasie wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag uitgereik het wat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) magtig om bewerings van korrupsie en wanadministrasie in Limpopo se departement van gesondheid te ondersoek wat voortspruit uit verkryging.

Enige finansiële verliese wat die staat of departement gely het, moet ook verhaal word.

Die SOE se ondersoek sal onder meer fokus op die verkryging van, of kontraktering vir afvalbestuursdienste in die provinsie en sal in besonder kyk na kontrakte vir die verwydering, behandeling, vervoer, versameling en wegdoening van gevaarlike mediese afval.

“Die VF Plus sal egter wil sien dat die ondersoek uitgebrei word na die res van die departement, aangesien gesondheidsorg in Limpopo se provinsiale hospitale en klinieke veel te wense oorlaat,” sê Marcelle Maritz, die VF Plus se provinsiale leier.

Die party glo dat die SOE-ondersoek net die oortjies van die seekoei gaan ontbloot en daar moet ook gekyk word na ander tenders en kontrakte wat die departement toegeken het vir die tydperk van 1 Januarie 2010 tot 18 Maart 2022.

“Die VF Plus veg al die afgelope twaalf jaar teen die verval in openbare gesondheidsorg in Limpopo en sal aanhou druk uitoefen totdat alle korrupsie en wanbestuur in die departement uitgeroei is,” voeg Maritz by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.