Ondersoek ná man glo in aanhouding sterf

Leeroy Oliphant (Foto: Facebook)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het ’n ondersoek van stapel gestuur nadat ’n man van Elsiesrivier in polisie-aanhouding dood is.

Volgens Imraahn Mukaddam, ʼn gemeenskapsleier, het lede van die polisie se teenbende-eenheid Leeroy Oliphant (30) Dinsdag in hegtenis geneem by die huis waar hy in Epping Forest gewoon het.

Mukaddam sê dat die vrou by wie Oliphant loseer het, gehoor het hoe polisiebeamptes na sy hek afskop waarna hulle hom glo in die huis aangerand het.

Oliphant is in ’n polisievangwa gestop en hy het vir die vrou gevra om sy paroolbeampte van sy inhegtenisneming in kennis te stel aangesien hulle later die dag sou vergader het.

Polisiebeamptes het egter later teruggekeer en aan die vrou gesê dat Oliphant in ’n hospitaal dood is.

“Polisiewreedheid ondermyn die vertrouensverhouding tussen die SAPD en die gemeenskappe wat hulle moet dien. Leeroy Oliphant het miskien ʼn kriminele rekord gehad, maar hy het sy tronkstraf uitgedien en was gereed om weer ʼn normale produktiewe lewe te lei,” sê Mukaddam.

Die Menseregtekomissie (MRK) behoort die saak verder te neem, meen Mukaddam. “Nog ’n onskuldige lewe is geneem as gevolg van oorywerige polisie-optrede. Ons moet sorg dat geregtigheid geskied.”

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe Oliphant dood is nie. Volgens Mukaddam sal die nadoodse ondersoek vrae rakende Oliphant se dood kan beantwoord.

Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, het bevestig dat ’n ondersoeker van Opod Donderdag die nadoodse ondersoek van Oliphant sou bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hercules ·

die SAPD het mags behep geraak omdat die regeerders van SA die voorbeeld stel!!

elke druppel bloed is aan die hande van die cANCerEff!!

Strandloper ·

Die wannabe cowboy en travante trust ek so ver ek hom kan gooi…wens tog ek kry die kans…

Cecilia ·

Dis asof dit n norm geword het in SA dat burgers deur die SAP aangerand en doodgemaak word het die SAP geen gewete want slegs siellose mense moor so en gee nie om.

Casper ·

Sjoe,dit is nie lekker om dit te lees nie.Dit gaan my verstaan te bowe hoe ‘n man lewend in ‘n polisievoertuig gelaai word en later is hy dood.Gaan mens dan so maklik dood.Is dit nie hoekom polisielede nie die term nodige geweld verstaan nie.Gee daai uniform hulle dan die mag on te moor.Wat haan Cele daaraan doen.Moet students nie eers gaan vir psigiatriese evaluering voor hulle mag aansluit by die nag nie.Het dit voor 1994 ooit gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.