Ondersoek ná man van Sandton-hotel na sy dood val

Dan Sevel (Foto: Facebook)

ʼn Johannesburgse bemarkingsbestuurder is dood toe hy van die vyfde vloer van die Sun International-gebou in Sandton na sy dood geval het.

Zoleka Skweyiya, ʼn woordvoerder vir Sun International, sê dié voorval het Donderdagmiddag by die maatskappy se hoofkantoor gebeur.

Sy het die man as Dan Sevel (41), ʼn werknemer van die maatskappy en direkteur van die Nedbank Gholf-toernooi, geïdentifiseer.

Skweyiya sê die presiese gebeure rondom die voorval is nog nie in dié stadium bekend nie. Dit is nog onduidelik of Sevel van die gebou gespring en of hy na sy dood geval het.

Skweyiya kon nie onmiddellik bevestig wie eerste op die toneel was nie, maar het wel gesê nooddienste het Sevel met hul aankoms by die toneel dood verklaar.

Volgens haar is ʼn volskaalse ondersoek na die voorval van stapel gestuur. “Sun International het Donderdagmiddag reeds berading vir sy werknemers gereël en die beraders sal deur die hele loop van Vrydag ook beskikbaar wees om bystand te lewer,” sê sy.

Kapt. Granville Meyer, woordvoerder van die Sandton-polisie, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Meyer sê die polisie kan geen meer inligting bekend maak behalwe dat geen gemene spel in dié stadium vermoed word nie.

ʼn Ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.