Ondersoek na Mbalula se beweerde geldwassery sloer

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: GCIS)

Die burgerregteorganisasie AfriForum se privaat vervolgingseenheid het Maandag ’n brief aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig en daarop aangedring dat sy klag teen Fikile Mbalula, minister van vervoer, dringend ondersoek moet word. Dit volg nadat Mbalula glo in 2017 betrokke was by geldwassery en korrupsie.

AfriForum het in Augustus verlede jaar strafregtelike klagte van geldwassery en korrupsie teen Mbalula, as voormalige minister van sport, by die Brooklyn-polisiestasie ingedien. Sedgars Sport, ’n sportprodukteverskaffer, het na bewering in 2017 tussen R300 000 en R680 000 vir die Mbalula-gesin se reis na Dubai opgedok. AfriForum het die afgelope tien maande egter nog geen beduidende terugvoer oor dié saak ontvang nie.

AfriForum het die Openbare Beskermer (OB) in 2017 versoek om dié reis te ondersoek en die OB het bevind dat Mbalula die Grondwet en ander wetgewing met hierdie reis oortree het. Die OB het toe die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) beveel om ondersoek in te stel om te bepaal of die geld wat gebruik is om vir die reis te betaal wel die opbrengs van geldwassery was. Die NVG het glo glad nie die aanwysings in die OB se verslag gevolg nie.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê AfriForum se privaat vervolgingseenheid het ook op 29 April vanjaar aan lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, geskryf en hom gemaan om die nodige aandag aan AfriForum se klag teen Mbalula te gee.

In dié brief dui adv. Gerrie Nel, hoof van die privaat vervolgingseenheid, aan dat AfriForum bekommerd is dat dit blyk dat daar ’n patroon ontstaan het waar sekere prominente politieke figure beskerm word teen strafregtelike vervolging.

“Dit blyk dat die polisie óf onwillig óf onbekwaam is om hoëvlakkorrupsiesake te hanteer. Hierdie saak is reeds lank voor die staat van afsondering oopgemaak, maar dit blyk dat die polisie veel eerder gewone, wetsgehoorsame mense in misdadigers wil verander deur hulle in hegtenis te neem vir geringe oortredings van vae afsonderingsregulasies wat voortdurend verander,” sê Taute.

In sy brief aan Cele voer adv. Nel ook aan dat hy hoop die minister se beheptheid met kwitansies vir sigarette sal deurspoel na die ondersoek teen Mbalula. Cele het glo beweer dat Mbalula self vir sy gesin se vakansie na Dubai betaal het.

“AfriForum sal nie terugstaan wanneer die regering versuim om politieke hooggeplaastes te vervolg nie, want almal is gelyk voor die reg. As die polisieminister en NVG onwillig is om Mbalula se beweerde oortredings behoorlik te ondersoek en hom te vervolg, sal ons ingryp,” sê Taute.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Niks snaaks nie dit is hoe die ANC werk. Hy sal niks oor kom nie

Fedup ·

It’s been almost 1 year now.
So? How much longer do we have to wait for this one to go to jail?

Baardman ·

Lyk my die polisie is slegs opgelei om maklike teikens te vervolg. Dis die rede vir die baie arrestasies vir die oortreding van die inperkingsregulasies…want dis mos maklik

Francois ·

Niks gaan daarvan kom. ANC is verhewe bo die howe. Ek is agter afriforum maar wys my ongelukkig een volkome vervolging

Wilna ·

En so gn die stelery nt aan en hle is so stupid wnt dis nie lank nie Dan word hle uitgevang. Dit is hoekom Ramaphosa vir hle luister wanneer besluite gmk word wnt hle alml weet vn mkaar se stelery. Duidelik weet Dlamini-Zuma ook iets vn Oom Cyril en dis hoekom die verbod op sigarette nie opgehef word nie. Maar onthou skelm se vet braai uit????????????

Gerhard ·

Cele se bende in blou kan net ou tannies en kinders teiken…die cANCer-kaders is ver bo hulle vuurmaakplek.

Scalla ·

Wat het geword van sy en ene Danny se R10 miljoen onder die tafel sokkerbod met die wereld beker?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.