Ondersoek ná Medupi-ontploffing verwelkom

Die Medupi-kragstasie. Foto: JMK/Wikimedia Commons

Solidariteit sê hy steun Eskom se ondersoek na afloop van ’n ontploffing wat Sondag by die Medupi-steenkoolkragstasie naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo plaasgevind het. Solidariteit het ook aangekondig dat hy sy lede wat by die ontploffing geïmpliseer word en gedurende die proses geskors is, sal verteenwoordig.

Maroela Media het vroeër berig Eskom het die werknemers wat Sondagaand aan eenheid 4 by die Medupi-kragstasie gewerk het voor daar ʼn ontploffing was, as voorsorgmaatreël geskors.

Volgens die kragvoorsiener se voorlopige ondersoek na die voorval het die ontploffing plaasgevind tydens die proses om waterstof met onderskeidelik koolstofdioksied en lug te verplaas ten einde ʼn eksterne lekkasie te vind.

“Dit blyk dat lug tydens die uitvoering van dié aktiwiteit in die kragopwekker ingebring is in ʼn stadium waar daar nog genoeg waterstof in die opwekker was om ʼn plofbare mengsel te vorm wat aan die brand geraak en tot die ontploffing gelei het,” het Eskom gesê.

Eskom het ook gesê dit blyk dat die werknemers afgewyk het van die prosedure vir die voltooiing van die proses. Daar is besluit om die werknemers wat daarvoor verantwoordelik was om dié werk te bestuur en uit te voer, voorlopig tydens die afhandeling van die ondersoek te skors.

Volgens Deon Reyneke, adjunkbestuurshoof van arbeidsverhoudinge by Solidariteit, is Solidariteit tans besig met die opstel van motiverende dokumente om redes aan te voer waarom sy lede nie geskors moet word nie.

“Met betrekking tot die stelling dat sabotasie gepleeg is, is dit hoogs onwaarskynlik dat werknemers hul werk en veral hul lewens op die spel sou plaas om ’n ontploffing te veroorsaak. Dit is jammer dat daar finansiële skade en natuurlik skade aan die kragopwekker is, maar Eskom moet nie uit die oog verloor dat menslike foute ’n werklikheid is wanneer take fisiek met die hand gedoen word nie. Ons glo en vertrou dat die ondersoek ons lede se onskuld sal bewys,” het Reyneke gesê.

Volgens Solidariteit is die ontploffing ’n tragiese ongeluk en kan nie aangeneem word dat dit toe te skryf is aan die opsetlike optrede van werknemers nie. Hy voer verder aan dat die aard van die ontploffing lewensgevaarlik is en dat dit onwaarskynlik is dat werknemers hul lewens op die spel sou plaas om slegs ’n enkele kragopwekker in die aanleg te saboteer.

“Dit is belangrik om te besef dat geen persoon al deur die ondersoek geïmpliseer is nie en dat die hoofdoel van ’n ondersoek is om die oorsaak van die ongeluk te vind, en dat dit nie noodwendig beteken dat daar ’n skuldige party is nie. Werknemers moet dus voortydig en sonder bewyse nie as skuldig behandel word nie. Ons steun Eskom se besluit om die ontploffing te ondersoek en het ons lede geadviseer om hulle volle samewerking met die ondersoek te gee. Ons sal hulle ook gedurende die proses verteenwoordig.

“Die ontploffing was vir ons en ons lede wat by die aanleg aan diens was, ’n groot skok. Dit is tragies dat hierdie ontploffing plaasgevind het. Solidariteit is dankbaar dat daar geen lewensverlies was nie.”

Die ontploffing volg net ʼn week nadat Eskom aangekondig het dat die laaste van ses eenhede by Medupi aanlyn gebring is. Alle bouwerk aan die 4 764 MW-projek is afgehandel nadat dit in Mei 2007 begin is. Volgens die DA is dit ʼn groot bekommernis en vra dat ʼn volledige verklaring oor die situasie by Medupi beskikbaar gestel word.

“Die oorsaak van die ontploffing moet onmiddellik bepaal word en aan die burgers –  wat vrees vir verdere beurtkrag – bekend gemaak word. Ons is bekommerd oor Eskom se vermoë om broodnodige kragtoevoer te voorsien en is in die duister of hierdie onlangse ontploffing deel uitmaak van ’n strategie van sabotasie op die belangrikste infrastruktuurgebiede van die land,” het Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Die Boerepompie ·

Ja nee wonder hoe veel gaan dit nou weer kos en wie se boettie gaan dit kry

Persheks Adri ·

Weereens onbevoegde mense wat in poste is waar hulle nie hoort nie. Dit gaan oor kennis en dis boonop gevaarlik waar mense se lewens op die spel is!

Willem ·

Bel vir Kuba om te help ofgebruik maar weer die peoples ingenieurs dan blaas hul sommer die hele stasie op!!!!!

twaalfboor ·

Het jy seergekry?
Nee……my baas was nog nie hier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.