Ondersoek ná meisie se ‘stoeldood’

Argieffoto.

Argieffoto.

Die Gautengse departement van onderwys het gesê ʼn ondersoek is van stapel gestuur nadat ʼn 17-jarige leerling aan Eden Park Secondary School in Alberton, Johannesburg dood is nadat ʼn klasmaat glo haar stoel onder haar uitgetrek het.

Phumla Sekhonyane, woordvoerder, het Woensdag gesê die departement kan nog nie in die stadium bevestig wat tot die meisie se dood gelei het nie en dat dit onafhanklik ondersoek word.

“Die ondersoekbeamptes het Woensdag die streekskantore besoek en gaan Donderdag die skool besoek,” het Sekhonyane gesê.

Sekhonyane het gesê die departement betreur die leerling se afsterwe en het namens die departement meegevoel met die meisie se familie en die skoolgemeenskap betuig.

“Die departement het beraders na die skool gestuur om die leerlinge en onderwysers wat deur die tragiese voorval geraak is, by te staan. Beamptes sal ook die leerling se familie besoek,” het Sekhonyane bygevoeg.

Maroela Media het Woensdag berig die meisie het glo geval en haar kop gestamp toe sy in die klaskamer wou gaan sit en een van die leerlinge die stoel onder haar uitgetrek het. Lt.kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het gesê die meisie is na die siekeboeg geneem, waar paramedici haar dood verklaar het.

Die voorval het Maandag plaasgevind en word ook deur die Eden Park-polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Ek het dit in my lewe nog NOOIT snaaks gevind, om n stoel weg te vat as iemand wil gaan sit nie. Toe ek nog op skool was, was dit die inding maar leerlinge is verbied om dit te doen nadat n leerling haar arm gebreek het, in die val. Ek dink dit is erg om jou kind skool toe te stuur, en dat deur die dag gebel te word met die nuus jou kind is dood….. deur n GRAPPIE!!!! Sterkte aan die ouers

Anoniem ·

Ek stem saam, Elize! Op skool was dit die in ding om te doen. ‘n Vriendin van my se stoel is so paar weke gelede “per ongeluk” onder haar weggestoot deur ‘n kelner in ‘n restaurant. Sy het amper haar stuitjie gebreek en daar is niks wat jy aan ‘n gebreekte stuitjie kan doen nie. Sy het geweldig pyn gehad!

pop ·

Sterkte ook aan die leerling wat dit gedoen het. Dit was sekerlik nie bedoel om iemand te dood nie. Die skok en selfverwyt is seker sielsvernietigend. Honderde kinders het al dieselfde simpel ding gedoen en ook op hulle agterstewe te lande gekom. Dis net n tragedie.

Eish! ·

‘n Mens wat in daai ouderdomsgroep val behoort te weet niks is ‘n grap as dit ‘n besering tot gevolg kan he nie. Persoonlik dink ek dit was weer ‘n tipe boelie kind. Wens ouers wil hul kinders leer om ander te respekteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.