Ondersoek na minister se ‘renoster-bande’ afgelas

David Mahlobo, minister van staatsveiligheid (Maart 2017) Foto: GCIS

Die selferkende Chinese renosterhoringsmokkelaar wat verlede jaar beweer het David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, is ʼn goeie vriend word vermis en die ondersoek na die bewerings is glo afgelas.

“Ons het die man gesoek, maar reeds skuiwergate in sy bewerings gevind. Ek is nie seker wat nog daaromtrent gedoen moet word nie,” het Edna Molewa, minister van omgewingsake, gesê in reaksie op die media se vrae oor hoe daar met die ondersoek na Mahlobo se beweerde bande met Guan Jiang Guang gevorder word.

Molewa het Maandag saam met Mahlobo en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, terugvoer oor die regering se geïntegreerde strategiese bestuurplan vir die bekamping van renosterstropery by die parlement in Kaapstad gegee toe hulle hieroor uitgevra is.

Mapisa-Nqakula het ook bevestig dat die ondersoek teen Mahlobo vir eers gestaak is. “Die man het bewerings gemaak en kort daarna net verdwyn. Dit is waarom daar nog geen terugvoer oor die vordering met die ondersoek verskaf is nie,” het sy gesê.

Mahlobo het nie self tydens die sessie op die vrae van die media oor die ondersoek gereageer nie.

Maroela Media het in November 2016 berig dat die polisie Mahlobo se beweerde bande met ʼn renostersindikaat ondersoek.

‘n Skermskoot uit die Al Jazeera-dokumentêr van die foto van David Mahlobo, die minister van staatsveiligheid, en Guan Jiang Guang, ʼn beweerde Chinese renosterhoringsmokkelaar.

Guang, wat glo self erken het hy smokkel renosterhorings na Beijing, het in ʼn Al Jazeera-dokumentêr gesê hy en Mahlobo is goeie vriende. Hy het ook beweer die minister besoek gereeld sy masseersalon in Nelspruit, Mpumalanga, en dat hy al by hom aan huis gekuier het.

Mahlobo het die bewerings ten sterkste ontken en die dokumentêr as “gemorsjoernalistiek” afgemaak. Hy het ook aangedui dat hy regstappe teen die man en die nuusagentskap oorweeg.

“Die minister van staatsveiligheid het sy volle samewerking in die ondersoek beloof. Mahlobo is die klaer in hierdie saak en wag self om te hoor hoe die ondersoek vorder, ondanks vele uitdagings,” het ʼn woordvoerder van die ministerie aan EWN gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Welkom in ZUPTOPIA…waar alle ZUMAIKIES onaantasbaar is! Kyk mooi: die eerste van n klomp ondersoeke wat eenvoudig afgelas word. Speel vir tyd…mense verdwyn….bewyse verdwyn…als verdwyn. En ons betaal vir ALS…DA…die nuutste slagoffer van AFRIKA se verwoes rand breej en leeg steel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.