Ondersoek na OB ’n ‘heksejag’

busiswe-mkhwebane

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer.

Die ANC het vandeesweek sy misnoeë uitgespreek na ʼn beoogde ondersoek na die geskiktheid van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), vir haar pos.

Dit kom nadat die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste besluit het om ʼn ondersoek van stapel te stuur na Mkhwebane se bevoegdheid om haar pos te beklee. Die ANC het in ʼn verklaring gesê hy sien hierdie besluit as opposisiepartye se poging tot politieke opportunisme.

“Meningsverskille of ongemak met ondersoeke deur die OB en die uitkoms van hierdie ondersoek beteken nie dat die OB onbevoeg is om haar amp te beklee nie. Dit beteken bloot die verontregte party stem nie saam nie en moet daarom ander middele oorweeg, insluitend ʼn geregtelike hersiening van die OB se bevindings soos daar in ons wetgewing daarvoor voorsiening gemaak word,” lui die verklaring.

Die regerende party het beklemtoon dat Mkhwebane byna ʼn jaar gelede ná ʼn deeglike parlementêre proses aangestel is. “Gedurende haar termyn het sy besluit om haar aandag te fokus om die meerderheid van ons mense te dien eerder as om Hollywood-styl ondersoeke te doen.

“Sy het dit ook gewaag om die mandaat van die Reserwebank te bevraagteken en het ʼn beroep op ABSA, die opvolger van die apartheidsera-bank Bankorp, gedoen om geld wat deur die Reserwebank aan hulle geleen is terug te betaal. Sy het duidelik ʼn paar hokke geskud en verskanste belange ontwrig.”

Die ANC het gesê volgens die grondwet kan die OB net verwyder word op grond van wangedrag, onbevoegdheid of onbekwaamheid en “Mkhwebane val nie in een van hierdie kategorieë nie”.

“Sy is sedert haar aanstelling aan die ontvangkant van ʼn veldtog om haar te diskrediteer. Hierdie voorgestelde ondersoek is bloot ʼn heksejag wat ontwerp is om haar te intimideer om stil te bly en haar te beïnvloed met hul skewe sienings van wat die werk van ʼn OB behels.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Ek is ontevrede met haar omdat sy nie iets doen aan die staatskaping en korrupsie nie. Die feit dat die ANC die ondersoek bestempel as ‘n heksejag, spreek boekdele.

Loeis ·

Presies! Zuma wou nie gehad het dat Thuli Madonsela daardie verslag vrystel nie, hy wou gehad het dat Mkhwebane daaroor moes besluit.

Dit is dus nie opposisiepartye wie Mkhwebane diskrediteer, soos wat die ANC beweer nie, dit was hulle eie leier, Jacob Gedleyihlekisa Zuma.

SARIE VAN HEERDEN ·

Stem saam met al die kommentare voor my. Wonder of sy weet wat aangaan. Waar het sy haar regsgraad gekry? Ons weet wel sy is een van Zuma se tjommies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.