Ondersoek na Oos-Kaap se omstrede motorfiets-ambulanse

Die motorfietsambulanse wat die Oos-Kaap wil gebruik. (Foto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

Ondersoek word ingestel na die R10 miljoen-tender vir die Oos-Kaap se omstrede motorfiets-ambulanse wat in Junie met groot fanfare bekend gestel is.

Die woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, Siyanda Manana, het aan News24 gesê die bodbeoordelingskomitee hersien in hierdie stadium die proses wat gevolg is met die toekenning van die kontrak. Volgens hom stel die komitee ondersoek in weens “openbare ongemak” oor die transaksie. Manana het nie Donderdag op Maroela Media se navrae gereageer nie.

Voorbeelde van die motorfietse is in Junie bekend gestel en dit is voorgehou as veeldoelige vervoermiddels wat pasiënte in landelike gebiede kan vervoer en medisyne kan aflewer. Dit word toegerus met ʼn syspan met ʼn sit- of lêplek, dit is waterdig en het plek vir ʼn binneaarse drup. Die departement het aangedui dat hy 100 van die omgeboude motorfietse gaan aankoop.

Jane Cowley, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die Oos-Kaap en ʼn lid van die provinsiale wetgewer, het gesê daar is in wese nie ʼn probleem met die gebruik van motorfietse nie, maar dat daar talle vrae is rakende die proses wat gevolg is om die kontrak toe te ken.

Tot dié vrae nie beantwoord word nie, is die afhandeling van die tenderproses op die lange baan geskuif.

Volgens Cowley is die provinsiale gesondheidsdepartement in ʼn krisis en het gesondheidsorgwerkers nie eens behoorlike beskermende toerusting nie. Veral nou, terwyl die Covid-19-pandemie al hoe meer slagoffers eis, is dié toerusting lewensbelangrik.

Covid-19-gevalle in die Oos-Kaap staan volgens die jongste beskikbare syfers op 42 357 en dit styg steeds.

“Die verkryging en verskaffing van beskermende toerusting was van begin tot einde ʼn gemors en nou koop ons bromponies waarvan niemand enigiets geweet het nie. Wie het besluit om die motorfietse aan te koop en hoekom? Hoe kan daar besluit word om motorfietse te koop terwyl ons nie eens genoeg ambulanse het nie?”

Die Oos-Kaap se gesondheidsbegroting is altesaam R26,3 miljard, maar net die mediese eise teen hom beloop sowat R30 miljard. Wanneer ʼn eis teen die departement toegestaan word, moet hy dus geld by een van sy gesondheidsorgprogramme – soos die verskaffing van nood- mediese dienste – wegneem om die eis uit te betaal. Suksesvolle eise teen die departement het verlede jaar R600 miljoen beloop, het Cowley gesê. Dit vat ʼn groot hap uit die departement se begroting.

Agterstallige skuld in die departement beloop in hierdie stadium R3,18 miljard en Cowley sê daar is geen plan om dít te pak nie.

Daar is ook nie geld om behoorlike ambulanse aan te skaf nie. “Die provinsie het net sowat ʼn derde van die ambulanse wat hy benodig. Ingevolge riglyne benodig jy een ambulans vir elke 10 000 mense en in die Oos-Kaap benodig ons minstens 650. Ek dink nie ons het in hierdie stadium eens 250 werkende ambulanse nie.”

Cowley sê dit is teen dié agtergrond – en nie omdat daar noodwendig teen die gebruik van motorfietse enigsins beswaar is nie – dat ʼn ondersoek na die tender aangevra is. Dit was ook nie net politici wat kapsie gemaak het teen die motorfietse nie, talle Suid-Afrikaners het óf hul misnoeë met die plan te kenne gegee, óf die spot daarmee gedryf.

Die DA het vroeër al die departement by die Menseregtekommissie verkla oor die geskiktheid van die sogenaamde mediese motorfietse en voer aan dié soort vervoer vir siekes, bejaardes en behoeftiges is onveilig en onwaardig.

Cowley het ook gesê terwyl die departement aanvanklik gesê het die motorfietse gaan pasiënte vervoer, het hy nou van deuntjie verander en gesê dat dit gebruik gaan word om medisyne af te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos10 ·

Swembad, Firepool?
Baie goed geleer om vinning ‘n liegstorie te verander.

Zacahara ·

Lagwekkend – presies wat jy van ‘n “banana-republic” sal kan verwag…!!!

Kobus ·

Daardie simpel made in China motorfietsies sal in elk geval nie eens ‘n jaar hou nie dan is die gemors uitgedien en gedaan.

Dries ·

Gomba en Mkhize het ‘n scooter ambulans vir ‘n spin gevat by die Oos-London strand, ten aanskoue van die media. Daar moes toe al vra gevra gewees het, nie handeklap en sjampanje skink nie.

Thea ·

Hoekom noem hulle nerens in die berig wat die kostes was vir die fietsies nie!! Dis mos daremte belaglik.

Wielspore ·

Toe ek die motorfietse die eerste keer sien het dit my laat dink aan jare terug toe die Duitsers motorfietse met ‘n side car gebruik het in die oorlog.
Hierdie is omtrent ‘n tyd skuif na die verlede.

Leon ·

Ek wonder :
1. Wie is die leweransier, (BEEE )
2. Vervaardiger, (China?)
3. Wie dra die waarborg as daar een is.

Prikkie ·

Lanklaas ‘n motorfiets met ‘n syspan (side car) gesien.

Die minister sal mos ‘n nuwe kultus begin!

Scalla ·

Sal MM asb weer oor n jaar berig hoeveel is oor en in gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.