Ondersoek ná oud-SA tiener in Australië sterf

Die 18-jarige Cameila het weens vermoedelik ‘n steekwond gesterf. (Foto: Verskaf)

Sy het met haar kinders na Perth in Australië verhuis om daar vir hulle ʼn veilige toekoms te gaan vind. Nou is dié oud-Suid-Afrikaanse ma in rou gedompel nadat haar 18-jarige dogter wreed gesterf het – en haar geliefdes boonop duisende kilometer ver is.

Die gesin se name, wat volgens familie in Suid-Afrika tans op versoek van die Australiese owerhede weerhou moet word, het sowat vier jaar gelede na Perth verhuis. Hulle het sowat ʼn jaar gelede burgerskap gekry. Hulle het wel ingestem dat haar voornaam, Cameila, bekend gemaak mag word.

Cameila, wat sowat drie weke gelede haar agtiende verjaardag gevier het, is Woensdag weens vermoedelik ʼn steekwond net onder haar hart dood. Sy is aanvanklik na ʼn mediese sentrum in die Spearwood-omgewing – waar die voorval by ʼn huis plaasgevind het – geneem en is daarna per ambulans na ʼn hospitaal gehaas.

Ten spyte van medici se beste pogings om haar lewe te red, is die jong meisie se lewensondersteuningsmasjiene ʼn dag later afgeskakel.

Volgens haar tannie in Suid-Afrika is Cameila se ma – die vrou se suster – platgeslaan. Ter wille van haar twee seuns probeer sy moedig bly.

Cameila se pa woon steeds in Noordwes. “Dit gaan sleg met hom. Ons het hom eenuur gisteroggend gaan oplaai en my man moes vir hom die nuus gee … hy het inmekaar gesak.

“Sy was die mooiste kind met die mooiste hart. Sy wou volgende jaar mariene biologie gaan studeer en het selfs al haar skipperslisensie gedoen. Sy was só opgewonde oor die lewe,” het die jong meisie se tannie hartseer vertel.

Luidens berigte help ʼn 17-jarige seun speurders van die Wes-Australiese polisie met hul ondersoek na die voorval. Meer inligting oor presies wat die ondersoek behels, is nie dadelik bekend gemaak nie.

Die pa het sy kinders – Cameila en haar 15-jarige boetie – gewoonlik twee keer per jaar in Australië gaan besoek. Weens die Covid-19-pandemie en die streng inperking het hy hulle amper drie jaar laas gesien.

Die familie is egter desperaat om na hul geliefdes in Perth te reis. Peperduur vliegkaartjies verhoed hulle om dadelik te vertrek om die ma en haar twee seuns (sy het ook ʼn jonger kind uit ʼn ander verhouding) te gaan bystaan.

Die familie het nou ʼn skarefinansieringsinisiatief begin in ʼn poging om geld in te samel om na Australië te reis. “My sussie het geen familie daar om haar te help of te ondersteun nie. Die 15-jarige seuntjie is geweldig getraumatiseer. Sy sussie was sy hele lewe.”

Die vrou vertel haar jongste susterskind, ʼn agtjarige seuntjie, besef nog nie mooi wat presies met Cameila gebeur het nie.

“Die kinders het hulp nodig en moet versorg word. Daar is soveel om te doen. En ons moet ʼn begrafnis reël …”

Cameila se pa is veral desperaat om in dié tyd by sy seun te wees.

“Ons wil net so gou as moontlik by hulle uitkom om hulle te probeer bystaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wielspore ·

Blykbaar het die meisie se kêrel iets met die saak te doen, ek haal aan uit ‘n ander bron. Spearwood death: Girl, 18, believed to have suffered stab wounds in Galian Way before medical centre visit. It’s understood the woman suffered the fatal wounds at her boyfriend’s Galian Way home, The West Australian reports.

Linx ·

Ja dit klink die 17 jarige een wat die polisie “help” met d ondersoek is dalk die kérel

SomeOne ·

sterkte aan al die familie, vir veiligheid getrek, en nou dit
mm probeer meer inligting kry na wat het tot die daad gely

Cherokee ·

Die slagoffer het weens die daad gely. Die berig verduidelik tog so.

Tubac ·

Ai hoe tragies. Maak net seker dat julle wel Perth toe kan gaan. Grens is gesluit. Kry alle relevante inligting rakende hulle Covid regulasies.

TO ·

Die mooiste engel kind. So bitter jammer dat sy so tragies moes sterf. Bid vir die familie vir Jesus se vertroosting

koos ·

Ja, dit is sleg. My meegevoel. ‘n Ander S-Afrikaner is in die World Trade Centre 911 tragedie dood. Hy het ge-emigreer oor die geweld hierso en was besig met ‘n lesing toe die terroriste in die WTC vasvlieg. Nou vra ek jou, waarheen gaan mens dan vir veiligheid? Die Eindtyd is inderdaad op ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.