Ondersoek ná plagiaat by NWU ‘vorder soos beplan’

Argieffoto: NWUMedia Club/Flickr.com

ʼn Ondersoek na 12 akademici wat moontlik plagiaat in hul navorsing gepleeg het, verloop volgens ʼn plan wat deur die uitvoerende komitee van die Noordwes-Universiteit se Raad oorsien word.

Louis Jacobs, woordvoerder vir die NWU, het Maandag aan Maroela Media gesê hy kan nie in hierdie stadium ʼn aanduiding gee van wanneer die ondersoek gefinaliseer sal wees nie.

City Press het in Julie 2017 berig dat 12 akademici ondersoek word vir plagiaat. Die akademici het glo die werk van ander akademici en organisasies in hul navorsingartikels gebruik sonder die nodige verwysings of erkenning.

Volgens die City Press se berig het die skandaal akademici van die NWU se Mahikeng- en Potchefstroomkampus ingesluit. Die mees senior akademikus, wat van plagiaat beskuldig is, het in 2017 nog ʼn posisie in die senior bestuur van die Mahikeng-kampus beklee.

Maroela Media het intussen vertroulik verneem dat die betrokke akademikus ʼn goue handdruk van R5 miljoen ontvang het terwyl die ondersoek nog hangende is. Jacobs het bevestig daar is ʼn ooreenkoms met die betrokke akademikus bereik, maar dat dit vertroulik is en geen van die partye se besonderhede daaroor mag bekendgemaak word nie.

Niemand is geskors terwyl die ondersoek voortduur nie. Jacobs wou ook nie bevestig presies hoeveel akademici ondersoek word of by watter kampusse of fakulteite hulle werksaam was nie.

Hy het wel bevestig dat die aanklagte in Mei 2017 onder die NWU se aandag gebring is en dat dit in ʼn baie ernstige lig beskou word.

“Daar is met onmiddellike effek ʼn intense ondersoek van stapel gestuur, en die ondersoek is steeds hangend en verloop volgens plan.

“Die universiteit respekteer die regte van die akademici wat geïmpliseer word by die beweerde voorvalle van plagiaat. Die aangeleentheid sal dus vertroulik hanteer word.”

Jacobs het benadruk dat die universiteit enige vorm van plagiaat deur enige persoon wat met die NWU verbind is, ten sterkste sal veroordeel.

“Indien dit bewys kan word, sal daar teen sodanige persone opgetree word ten opsigte van die universiteit se dissiplinêre prosedures wat onderworpe is aan die swaarste sanksies.”

Volgens Jacobs is die ondersoek tans steeds in ʼn stadium waar die insette van deskundiges ingewin word.

“Daar word ook voortdurend aan die universiteitsraad vordering in hierdie verband verskaf en sodra die aangeleentheid afgehandel is, sal verder kommunikasie in hierdie verband plaasvind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Vreemdeling ·

R5m! (Waarvan ons weet).
Ek is al hoe meer dankbaar dat ek toe nie verby my naaste universiteit gery het toe ek moes besluit waar my twee moet studeer, veral ook nie na gister se EFF plakkate (se bewoording) soos gesien op die NWU (Potch) kampus.

Mickey ·

Weet nie meer of ek moet lag of huil oor al hierdie dinge nie.

humor ·

Elke terein is deurspek met korubsie en oneerlikheid. Dit het soos rookreuk in meubels igetrek.

Oud student ·

In die jaar 2001 as ek reg onthou het ek baie moeite met my taak gedoen, en ‘n week later het die dosent dit as studiemateriaal voorgedra, amper net so, sonder om my eers dankie te se vir goeie werk, om my te vra of my naam te noem.

E.K. die eerste ·

Sulke goed maak my naar. Ek VERSTAAN nie hoe kan jy ewe trots voorgee jy het iets geskryf of gedoen of gesê as jy eitnlik met anderman se kallers geploeg het!

Mielie ·

Dis hoe dit nou gaan – die orde van Afrika! Jy hoef nie hard te werk en trots te wees nie, vat wat jy wil van ander, in enige vorm en maak dit joune. So maklik is dit. Daarna sal daar lange ondersoeke wees en geen gevolge nie. LAGWEKKEND, glad nie meer skrikwekkend nie.

Stef ·

My pa was die eerste Doktors graad in Natuurwetenskappe en het in 1984 af getree.
‘n Goue handruk van R100 000.00 ontvang vir onbaatsugtige en eerlike diens van 40 jaar. Dis om van te huil.

LouE ·

Die ondersoek vorder teen ‘n SLAKKEPAS. Wonder of hulle nie kyk of dit wil oorwaai nie? En die R5 miljoen is ‘n skande.

pieter ·

Waarom word die betrokke persone nie by naam genoem nie? Dit was agterbaks van hulle, en moet geidentifiseer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.