Ondersoek ná polisieman glo twee kinders doodry

Die BMW wat glo in die ongeluk betrokke was. Foto: Via
@rmotsamai / Twitter

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het Dinsdag gesê hy het ʼn ondersoek oorgeneem na ʼn voorval waar ʼn polisiebeampte van Noordwes na bewering twee kinders in Sandfontein doodgery het.

Volgens die Twitter-gebruiker, Reginald Motsamai, het die voorval op 4 Maart plaasgevind en is die twee 13-jarige slagoffers, Karabo Clive Malapane en Resego Cliford Khumalo, Motsamai se susterskind en dié se nefie.

Motsamai het ook foto’s van een van die seuns asook ʼn silwer BMW wat hulle getref het op Twitter gedeel met die hoop dat die inligting “by die regte mense” uitkom aangesien “die polisie hulle faal”.

Motsamai sê in die twiets die seuns het die Sondagmiddag op hul fietse op die R510 gery om roomys by ʼn vulstasie te gaan koop. Toe hulle die pad naby ʼn vulstasie oorsteek, het die BMW, wat glo die spoedgrens oorskry het, hulle getref. Die seuns is op die toneel dood.

“Toe my tannie en my ouers omstreeks 14:00 by die toneel opdaag en die kinders se liggame aan die kant van die pad aangetref het, was die persoon wat hulle doodgery het nêrens te vinde nie,” het Motsamai Maandag gesê.

“Die polisie het hul ongeluksverslag gedoen, die kinders se liggame opgelaai en na die Phokeng-lykshuis geneem. Nadat die kinders se liggame verwyder is, het my ma die seuns se bloed van die teerpad af gewas.”

Die kinders is op 10 Maart ter ruste gelê en die seuns se gesinne het hul misnoeë uitgespreek met die polisie se diens ná die ongeluk. Die gesin het later vasgestel die bestuurder van die BMW is glo ʼn polisiebeampte.

“Dit is ʼn maand ná die ongeluk en ons weet steeds nie wat aangaan nie en of die bestuurder aangekla is of gaan word nie. Ons vermoed vuilspel en dat die polisiebeampte deur sy kollegas beskerm word. Ons het die publiek se hulp nodig om geregtigheid vir Karabo en Resego te kry.”

Moses Dlamini, Opod se woordvoerder, het Dinsdag gesê die direktoraat het kennis van Motsamai se pleidooi op sosiale media geneem en besluit om ʼn ondersoek van stapel te stuur en die saak oor te neem.

“Opod se ondersoeker in Noordwes het navraag gedoen en vasgestel dat hierdie aangeleentheid nie by die direktoraat aangemeld is soos die wet vereis nie,” het Dlamini gesê.

“Kragtens artikel 28 van die Opod-wet word hierdie voorval as ʼn sterfgeval weens polisieoptrede beskou en moes die polisie dit binne 24 uur by Opod aangemeld het. Aangesien daar nie so ʼn verslag by Opod ingedien is nie, sal ʼn saak van versuim om ʼn voorval aan te meld ook ondersoek word. Die gepaardgaande ondersoek sal ook bepaal wie aanspreeklik gehou moet word.”

Opod se ondersoek duur voort. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Karabo Clive Malapane. Foto: Via @rmotsamai / Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

DAVID ·

niemand sal vir hierdie misdaad aangekla word nie,die docket is nooit oopgemaak nie en sodoende sal hierdie saak nerens kom nie,hulle beskerm mekaar,dan hetdie bestuurder van voertuig nog die toneel verlaat,

Natasha ·

Ai David, dis so waar wat jy daar se, veral omdat hy nog ‘n polisieman ook nog is.

Denise ·

Skokkend my simpatie met die ouers geen gevoel vir sy mede mens hoe kan jy net weg ry ??????

Henk ·

Hulle sal beslis dieper moet krap. Wat is die polisieman se salaris om so n kar te bekostig? Dit was dalk sy aansporing om so gou moontlik van die grusame ongeluk te vlug. In my dorp het n fisiotetapeut n voetganger raakgery. Halfuur gewag vir polisie en ambulans en toe self die vrou hospitaal toe geneem. Daarna polisiestasie toe gery net om gearresteer te word omdat sy die ongelukstoneel verlaat het!!!

Jacques ·

Dit is baie tragies , sterkte aan die familie . Ek wil egter n klein rotsie in die bos gooi .
Ek wonder net wat sou die gevolge gewees het as dit drywer wit was , sou die polisie ook dan die saak weg gewens het ? Kan MM aub die storie volg en ons op hoogte hou .?

Veer ·

Hoe slaap so persoon in die nag, hoop sy gewete ry hom tot in lengte van dae.

tamboti ·

Liewe Veer, jy weet mos voeltjies het ook vere want hulle voel vere! Met ander woorde: hulle het nie gewetes nie! So daar is die antwoord, sy gewete pla hom nie want hy voel VERE.

Catherine ·

So n pragtige seun verdien n regmatige verhoor. Aangesien die land weet van die polisie skande !! Moet daar opgetree word. Lyk my elk moet sy eie speurder aanstel sodra daar n geval gebeur. Nie wag maar dadelik die bewyse versamel.

Gerrit ·

Ek wonder hoeveel eerlike polisie beamptes kan so n kar bekostig . Ek dink net mense wat regtig baie naïef is of regtig grond dom is glo en respekteer nog die Suid afrikaanse polisie.

Niel ·

Daai tiepe BMW’s word deur baie gery. As sy onderhoudsplan verby is val sy prys met die helfde, dan goedkoper as ‘n Polo!

Wonder ·

Deesdae is wie jy ken en nie wat jy is nie. Ek het nie geweet die polisie word in kulkuns opgelei nie. Sien dossier hier en sien dossier daar en woerts weg is hy.
Dit so hartseer. Mag die familie vrede vind.

Bokram ·

As die mens die berigte lees,dan verloor mens net weer opnuut vertroue in die polisie,hoe leef jy met jou gewete nadat jy 2 kinders doodgery het?ek hoop hulle kry die skuldige,ek hoop die publiek kry hom eerste.

marous ·

Cele sal die sekerlik omskryf as ‘n eerlike fout en die staat sal sonder koste beraders verskaf ……

Tanzie ·

My hart gaan uit na die kinders se familie, maar net een vraag… Wat soek ‘n kind op ‘n fiets op die R510?

Duitser ·

Hoekom is niemand nog gearesteer nie .weet die klomp nie wie dit is of waar hy is nie 10 uit 10 julle slaag weer loshande die prys vir die mees onbevoegde polisie in die wêreld.

Anoniem ·

Asseblief, vertel met net hoe bekostig ‘n polisieman hierdie spesifieke model BMW?

Afrikaanse Knaap ·

Verbaas my glad nie. Ek sien SAPS net as “crime data capturers”. Hartseer.

Sterkte ·

Toemaar,polisie sal niks doen. Beskerm mekaar en smeer bewyse toe,en geld word in hul hand gestop om kfc te gaan koop. Sterkte aan familie

Colleen ·

Mag geregtigheid geskied. Twee onskuldige kinders moes boet met hul lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.