Ondersoek na SAUK-raad begin volgende week

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

ʼn Parlementêre ondersoek oor die geskiktheid van die SAUK se raad om in hul amp te dien, begin volgende week.

Die portefeuljekomitee oor kommunikasie het Donderdag in ʼn verklaring gesê die ondersoek begin op 19 Oktober en word gedoen kragtens artikel 15A van die Uitsaaierswet wat LPs bemagtig om ʼn raad te ontbind ná ʼn ondersoek.

“Die komitee het eenpartydig ingestem dat daar ernstige uitdagings bestaan met die huidige raad en dat ingryping nodig is. Die komitee is ook van mening dat die uitdagings vererger is toe twee nie-uitvoerende lede van die raad verlede week bedank het,” lui die verklaring.

“Die komitee maak nou, deur die kantoor van die voorsitter mnr. Humphrey Maxegwana, skriftelik kontak met die oorblywende lede van die raad, diegene wat bedank het en enigiemand anders wat dalk noodsaaklike inligting kan verskaf tydens die ondersoek.”

Die komitee het verlede week tydens ʼn vergadering beslis dat die raadslede versoek sal word om te bedank. Indien dit nie gebeur nie, sal ʼn ondersoek van stapel gestuur word.

Die komitee se resolusie kom ná raadvoorsitter Obert Maguvhe en waarnemende groep- uitvoerende hoof James Aguma hul besluit, om Hlaudi Motsoeneng weer in ʼn senior pos aan te stel, verdedig het.

Twee raadselede het later aan LP’s gesê hulle bedank en het versoek dat die raad ontbind moet word.

Maghuve het die volgende dag, tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg, LP’s daarvan beskuldig dat hulle hom en ander raadslede probeer boelie om te bedank, en hy het volgehou dat hy nie gaan bedank nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Sjoe, ons hoef nie eers meer te gaan fliek nie. Video-winkels loop ook leeg want ons kry ‘n slag waarde vir ons tv-lisensies. Mens is amper te bang om sport te kyk, want dalk mis jy die volgende episode in die volgehoue nuuskanaalsepie wat wissel tussen kampusvure, sabc-hoogdrama en parlementere eskapades. En binnekort volg nog vuurwerke, die keer in die howe. Daardie gewraakte brandslang sal dalk oortyd moet werk.

Maria van Dieweeck ·

En intussen melk ons die instansie onder die leierskap van Rooioog. Ek wens hy kon werklik n wonderwerk doen en net verdwyn…..saam met sy ONgeskikte raad, en baas, Faith en die se baas, zuma en….die hele vrot kabinet, o ja en die ongeskikte Allistair Coetzee, ….groot seblief!

Jean ·

Kom ons raai, hulle gaan niks verkeerds vind nie, en intussen trek die useless spul groot salarisse by ‘n bankrot organisasie. As jy nie jou TV lisensie betaal nie, word jy opgeskroef, nie een van daardie belhamels gaan iets oorkom nie. Ek wil net weet wat is ons regte, ons kyk nooit ooit meer SABC 1,2,3 nie, ons het lankal al DSTV en kyk net hulle programme, HOEKOM moet ons nog die TV lisensie betaal?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.