Ondersoek na SAUK wéér vertraag

Foto: Argieffoto

Foto: Argieffoto

Die ondersoek na die bevoegdheid van die SAUK-raad wat veronderstel was om vandag te begin, is weer eens deur nog ʼn hofaansoek vertraag.

Mbulaheni Maguvhe, die voorsitter van die raad, het Woensdag aangekondig dat hy sal appelleer teen die Wes-Kaapse hooggeregshof se beslissing om sy dringende aansoek om LP’s te verhoed om met die ondersoek voort te gaan, met koste van die hand te wys.

Maroela Media het vroeër berig regter Siraj Desai het Vrydag in ʼn kort uitspraak gesê Maguvhe se aansoek word van die hand gewys en die redes sal later bekendgemaak word.

Vincent Smith, die voorsitter van die ad hoc-komitee wat die ondersoek na die SAUK sal behartig, het Woensdag aan LP’s gesê die parlement se regspan het hom aanbeveel om die ondersoek op te skort hangende die uitkoms van die appèl. Hy het ook gesê daar sal gevra word dat die appèlproses bespoedig word.

Al die LP’s het egter nie saamgestem dat die ondersoek opgeskort moet word nie. “Hierdie raad is ongeneeslik onbevoeg. Kom ons gaan voort en laat nie toe dat ons geïntimideer word nie, “ het DA-LP Phumzile van Damme gesê.

Narend Singh van die Inkatha Vryheidsparty het gesê enige hofaksie wat gebring word om die wetgewer te beskerm, word deur sy party ondersteun. Hy het egter die tydsberekening van die appèl bevraagteken. “Ons kan nie vir ewig as gyselaars gehou word nie,” het hy gesê. “Wat is daar om weg te steek? ʼn Mens kry die indruk daar is dinge wat mense vir ons wil wegsteek.”

Dit het ook Woensdag aan die lig gekom dat Maguvhe nie gehoor gegee het aan ʼn dagvaarding van die parlement om alle dokumente wat met die ondersoek verband hou aan die komitee te oorhandig nie. Dit het onder meer dokumente ingesluit wat verband hou met die omstrede multimiljoen rand ooreenkoms waardeur MultiChoice toegang gegee is tot die SAUK se argiewe.

Mike Waters, adjunk-hoofsweep van die DA, het gesê deur Maguvhe toe te laat om die dagvaarding te ignoreer, word ʼn gevaarlike presedent vir ander staatsinstansies geskep. “Nog nooit het enige instansie geweier om dokumente aan die parlement te oorhandig wanneer die instansies gedagvaar is om dit te doen nie. Om sake te vererger is dit die openbare uitsaaier wat dit doen,” het Waters gesê.

Die komiteelede het later besluit om agter geslote deure verder te vergader om te besluit oor die pad vorentoe. Ná die samesprekings het Smith aangekondig die komitee het besluit om vandag nog met die ondersoek voort te gaan ongeag Maguvhe se hofaansoek. Hy het gesê die parlement se regspan is ook opdrag gegee om “enige stappe nodig” te doen om seker te maak dat die SAUK gehoor gee aan die dagvaarding om die komitee van al die relevante dokumentasie te voorsien.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Buitestander ·

Wys jou tot waartoe ‘n een man Raad in staat is. Die saak is nog lank nie afgehandel nie. Ons sal al lankal vergeet het waaroor die Raad ondersoek moet word dan sleep dit nog voort.

Ja hoor ·

Ag julle wil hulle nie regtig ondersoek nie. Kom ons weerhou ons lisensiegelde dan sien julle hoe vinnig gebeur dinge. Maar in SA is ons te pateties en te traag en te bang. Ons wil darem nou nie ‘n klad op ons name he nie, en almal skreeu JA kom ons doen dit en as jy omdraai staan jy alleen. As ons nie erens gaan ophou BETAAL nie, gaan hierdie belaglikhede en korrupsie voortgaan (MET ONS GELD).

Johann ·

Gaan nog die dodelikste siekte ooit word onder politiekenaars: used to ness ( doen NET wat EK wil) Gevolg deur onaantasbaarheid sindroom

Onnosel ·

Ek weet nie wanneer gaan die regering en staatsinstellings ophou in gevalle waar nalatigheid ter sprake is die howe as skuilplek en weerafleier te gebruik ten koste van die belastingbetalers

MikeT ·

En die minister is nêrens te sien of te hoor nie. Sy is seker al met vakansie of dalk haar nuwe X5 gaan haal.
Dis pateties van die voorsitter van komitee se kant af ook. Hulle kom reeds more al hofaansoek teenoor hom gebring het asook om hom direk verantwoordelik te hou vir alle kostes. Maar hy en Motsoeneng is besig om te speel vir tyd om so vinnig as moontlik alles te probeer vernietig wat inkriminerend teenoor hulle kan wees.

Simon ·

Aan Mike T,
En intussen verdien hy sy “voorsittersgelde”

zoom zoom ·

Soort soek soort. En mnr miljoene sit agter die ding saam met sy minister wat hom beskerm

oom ·

hahahahah, hoe meer hulle probeer keer, hoe skuldiger lyk hulle. Snaaks dat hulle dit nie besef nie.

Alida ·

‘n Goeie Regter sal die pateet mos vra wat het hy om weg te steek. Dink hy mens is onnosel.

John ·

Die’ ‘one-band-gang’, wie het hom in die eersts plek aangestel? Lig ons asb in. Wat wag volgende op ons? Dit raak scary…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.