Ondersoek na seisoenwerkers se burgerskap in Robertson

Die twee groepe het Donderdag koppe gestamp. (Foto: Skermgreep van video op Twitter)

ʼn Ondersoek na die beweerde indiensneming van onwettige buitelanders op plase in Robertson in die Wes-Kaap is van stapel gestuur nadat twee groepe seisoenwerkers vroeër vandeesweek mekaar gepak het.

Volgens die departement is geen werksvisums aan buitelandse burgers uitgereik om op plase te kom werk nie. Dus was die departement genoop om ondersoek in te stel.

Die departement van arbeid het reeds Vrydag saam met die polisie en departement van binnelandse sake se immigrasiedienste sommige van dié plase gaan besoek.

“Voordat ʼn amptelike ondersoek na die bewerings van stapel gestuur is, het die departement dit nodig geag om eers die gebied self te besoek en die aangeleentheid met die relevante rolspelers te bespreek,” sê David Esau, provinsiale hoofinspekteur.

Die ondersoek volg nadat verskeie seisoenwerkers Donderdag beseer is toe ʼn groep van Lesotho en ʼn groep van Zimbabwe in die Nkqubela-nedersetting koppe gestamp het.

Niemand is egter tydens die botsing dood soos daar in sosialemediaplasings beweer word nie.

Die twee groepe is glo in wedywering met mekaar vir werk op plase.

Volgens Esau heers grootskaalse onstabiliteit in dié gemeenskap sedert die departement en plaaslike munisipaliteite in die Kaapse Wynlandstreek probeer het om samewerking tussen munisipaliteite, plaaslike regerings en nasionale regering te bewerkstellig om kwessies van werkskepping én die kwessie van onwettige buitelanders in die gebied aan te raak.

“Ons het nou versoek dat arbeidsmakelaars vir ons sê op watter plase hulle werkers geplaas het sodat ons kan bevestig wie van die werkers wettig in die land is,” sê hy.

“Die eienaars van hierdie plase sal ook aanspreeklik gehou word indien dit aan die lig kom dat onwettige buitelanders in diens geneem is.”

Die departement sal nou oor die volgende paar dae al die plase in Robertson inspekteer om vas te stel of werkgewers wel by die nodige arbeidswetgewing hou en die behoorlike prosedures gevolg word wanneer werkers gewerf word.

Gevalle waar werkers wel onwettig in diens geneem is, sal na die departement van binnelandse sake se immigrasiedienste verwys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.