‘Ondersoek na staatskaping moet op Zuma fokus’

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Die Ahmed Kathrada-stigting het Donderdag ʼn beroep op die geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping gedoen om tydens sy ondersoek gefokus te bly op pres. Jacob Zuma, die sakeryk van die Gupta-familie en ander kwessies in die staatskapingsverslag.

Neeshan Balton, direkteur van die stigting, het gesê die stigting verwelkom Zuma se aankondiging van die aanstelling van dié kommissie van ondersoek, maar dat die kommissie nié ander sake buiten die ondersoek na staatskaping en ander kwessies in die staatskapingsverslag moet insluit nie.

Dit kom nadat die voormalige openbare beskermer (OB), Thuli Madonsela, se staatskapingsverslag in 2016 onder meer beweer het dat die Gupta-familie hul vriendskap met Zuma misbruik het deur saketransaksies vir hul maatskappye met staatsondernemings te beklink en dat die omstrede familie die aanstelling van kabinetsministers beïnvloed het.

Madonsela het destyds aanbeveel dat Zuma ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aanstel om die bewerings verder te ondersoek.

Zuma het Dinsdag aangekondig dat die kommissie gelei sal word deur adjunkhoofregter Raymond Zondo – dít nadat die hooggeregshof in Pretoria op 13 Desember beslis het dat Zuma die kommissie binne 30 dae moet aanstel.

Balton sê hoewel Zuma se aankondiging ʼn stap in die regte rigting is, is daar steeds baie besonderhede oor die kommissie wat bekend gemaak moet word om te verseker dat dit in ooreenstemming is met Madonsela se aanbevelings.

“Ons beaam Madonsela se aanbeveling dat die kommissie spesifiek moet fokus op die bewerings van ʼn staatskaping onder die leiding van pres. Zuma en bewerings teen die Gupta-familie. Ons stem ook saam die president kan ʼn ander kommissie aanstel wat kan fokus op ander kwessies as die staatskaping, maar dié geregtelike kommissie moet ʼn spesifieke fokus hê en nie uitgerek word deur ander sake in te sluit nie,” het hy gesê.

Balton sê die stigting hoop dié kommissie baan ʼn weg vir die vervolging van alle individue wat skuldig bevind word aan die oortreding van die wet en die verontagsaming van die Grondwet – ongeag die persoon se amp of posisie.

“Daar moet onmiddellike vervolging wees in gevalle wat maklik vervolgbaar en duidelik is. Ons doen ʼn beroep op die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om op te hou sloer. Die sogenaamde Gupta-leaks het baie geopenbaar en in sommige gevalle is dit nie nodig om te wag vir ʼn ondersoek om plaas te vind vir vervolging om te geskied nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.