Ondersoek na swaelreuk begin  

Sasol se Secunda-aanleg. Foto: Jóhni Steenkamp

ʼn Afvaardiging van verteenwoordigers van die departement van omgewingsake en die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit sal Donderdag Sasol se aanleg in Secunda besoek in verband met die swaelreuk oor Gauteng en Mpumalanga.

Daar word vermoed dat die Sasol-aanleg moontlik die bron is van die swaelreuk wat sedert die begin van die week oor dié provinsies waargeneem word en dat ʼn kombinasie van verhoogde vlakke van swaeldioksied en waterstofsulfied moontlik die reuk veroorsaak.

“Hoewel daar baie bronne in die omgewing is wat tot hierdie verhoogde vlakke kan bydra, is die luggehaltebeampte van die distriksmunisipaliteit in kennis gestel dat Sasol se Secunda-aanleg strestoestande ervaar, aangesien bedrywighede by die aanleg verskerp is,” het Albi Modise, woordvoerder van die departement, gesê.

Volgens data van die Suid-Afrikaanse Luggehalte-inligtingstelsel (SAAQIS) voldoen die verhoogde swaeldioksiedvlakke in Johannesburg, Pretoria en Mpumalanga steeds aan omgewingstandaarde.

Die besoedeling veroorsaak ʼn onaangename reuk, selfs in konsentrasies wat baie laer is as dít wat gesondheidsgevare inhou. Mense wat sensitief is vir onaangename reuke, sal waarskynlik hoofpyn en naarheid ervaar.

Modise het gesê as deel van die departement se ondersoek sal daar van verteenwoordigers van Sasol se Secunda-aanleg verwag word om ingevolge wetgewing rekening te gee en om versagtingsmaatreëls in te stel, sou dit die bron van die reuk wees.

“Sodra die ondersoeke afgehandel is, sal die owerhede besluit oor enige verdere optrede.”

Maroela Media het reeds vroeër berig dat die reuk waarskynlik van Sasol se Secunda-aanleg af kom en dat dit deur sterk winde na Gauteng gewaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Dis nie die reuk wat siek maak nie, dit waarsku ons net en sensitiewe mense kry sterker boodskappe. Dit is die bestanddele wat siek maak. Van die giftigste gasse is reukloos. Goed dat die spulletjie bekyk word, want Sasol was vir jare vrywild.

MakersMark ·

Dankie omtrent tyd. Sasol en Eskom is onder die grootste besoedelaars wêreldwyd. Hoop Sasol kry ‘n ordentlike boete en streng tydlyn om kapitaal investering te doen om sy besoedeling stop te sit.

Hennie J ·

Nee, ek glo die reuk is afkomstig van die provinsiale raadsaal want hulle weet die VF plus is in aantog!

Jacobus ·

Die probleem is tweeledig. Die installasies wat uitlaat beheer moet doen wanfunksioneer (verkeerd of swak onderhou). Die gehalte steenkool wat gebruik word is verkeerd.
Darem lank gevat om met ondersoek te begin. Lugkwaliteit is ‘n daaglikse meetbare entiteit.

Barend ·

Swaeldioksied word in kos gebruik as preserveermiddel en kan geweldige allergiese reaksies veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.