Ondersoek na treinbotsing waarin 320 beseer is

Op die ongelukstoneel. Foto: Netcare 911

Die treinbotsing Donderdag laatmiddag by die Van Riebeeck Park‑treinstasie in Kempton Park waarin meer as 300 mense beseer is, het gebeur toe ʼn Metrorail-trein van agter teen ʼn stilstaande onklaar trein gebots het.

Paramedici van verskeie nooddienste was nog tot laataand op toneel om na al die beseerdes om te sien en talle pasiënte na hospitale te haas.

Lillian Mofokeng, woordvoerder van die Gauteng Metrorail, het later Donderdagaand bevestig 320 pendelaars is in die botsing beseer. Altesaam 32 van die beseerdes het ernstige beserings opgedoen. Die bemanning van albei treine moes ook mediese behandeling ontvang.

Die beseerdes is onder meer na Tembisa-, Kalafong-, Zamokuhle-, Arwyp-, Tambo Memorial-, Linksfield-, Bertha Gxowa- en Milpark-hospitaal geneem.

Talle nooddiensvoertuie op die toneel. Foto: Best Care-ambulansdienste

“Metrorail trein 0659 was vanaf die Johannesburg Park-stasie na Pretoria op pad toe dit met trein 0663 gebots het wat foutief was en by die Van Riebeeck Park-stasie stilgestaan het,” het Mofokeng verduidelik. “ʼn Ondersoekspan sal egter binnekort aangestel word om te bepaal wat die oorsaak van die botsing was en Prasa sal ten nouste saam met die ander owerhede in dié verband werk.”

Mofokeng het gesê Metrorail se tegniese span werk onverpoosd om die toneel op te ruim en enige beskadigde infrastruktuur te herstel. “Die koste van hierdie ongeluk is nog nie bekend nie,” het sy gesê.

Sy het haar dank uitgespreek teenoor die nooddienste wat onmiddellik gereageer en mediese behandeling aan die beseerdes gebied het. “Metrorail bedank ook ons pendelaars vir hul ondersteuning en begrip in hierdie moeilike tyd en vra opreg om verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Callie ·

Mos in n staat van geen verantwoordelikheid. Een of ander defek op n sinjaal sal nou weer die skuld kry. Die wat moet toesien dat die instandhouding gebeur sal nie skuldig wees nie

corne ·

iemand seker op n tee breuk en nie hulle werk gedoen nie dit waarop dit neerkom maar na R5milj se ondersoek sal daar n baie tegniese verslag wees wat net bolie verduidelik

Few net ·

Wat was die verskoning met laas maand as ongeluk? We upgrate the system and thats to blame……kom ons kyk wat is die ene?

Kop Skud ·

Ek kan net my kop skud. My kop skud al permanent en dit is nie weens ‘n siekte nie.

Jakkals 911 ·

Alweer? As die drywer ‘n rooi sinjaal ignoreer, of die trein is laat weens tegniese probleme – maklik – bots maar gerus teen die stilstaande een of steek die trein an die brand. Maklikste manier om ‘n eens goedgeorganiseerde stelsel onder die vorige regering te wys hoe ‘dom’ of agterlik genoemde ou bedeling was – doe so voort en wys die wêreld hoe “gevorderd” en “slim” ons nou ‘land verinniweer….

thelsa ·

Mense solank ons met onopleibare Persone in verantwoordelike poste sit, sal dit voortduur. Die Persone dra geen aanspreeklikheid nie. Die Persone wat elektroniese- of meganiese beher moet uitoefen is swak opgelei. Vandat ons Persone het wat die plek van die vorige bedeling oorgeneem het, word die standaarde net verlaag. Groter rampe wag nog op ons weens die aanstelling van Persone in hierdie poste.

Jaap ·

Moet nie vergeet om uitbetaling aan beseerdes te maak nie Prasa.

Oudste ·

Waar is die unies nou? Hoekom braak hulle nie gal soos wanneer daar ‘n mynongeluk is nie?

PJC ·

Ja Oudste die unies is nou doodstil want hulle weet presies wie en wat in hierdie geval die oorsaak is.

L ·

BEmpowerment raak nou onbekostigbaar! Oor skakeling na Bekwaamhede, klink soos iets wat Republiek van Parragwaai kan bekostig.

Tino ·

Alle Suid Afrikaners sal die prys betaal van Korrupsie asook die vrugte van Transformasie pluk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.