Ondersoek ná twee by Kloof-myn sterf

Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Sibanye-Stillwater het ʼn ondersoek rakende die dood van twee mynreddingswerkers van stapel gestuur nadat hulle deur hitte oorval is in hul soeke na ʼn vermiste mynwerker.

Leon Peacock, kaptein van die mynreddingspan, en een van sy lede, George Kolbe, is onder dié wat tydens die soektog oorlede is nadat hulle vermoedelik deur hitte oorweldig is.

Die mynwerker, wat as ʼn voorman geïdentifiseer is, het Sondagaand by Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand spoorloos verdwyn. Hy is steeds vermis en die soektog na hom duur voort.

“Reddingswerkers het al oral gesoek waar die voorman moontlik kan wees, maar hy is net weg,” het Steve Scott, Solidariteit se verteenwoordiger vir mynwerkers by Sibanye, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Volgens hom het die voorman, ʼn ambagsman en twee vakleerlinge beplande roetineherstelwerk naby die skagstasie afgehandel, waarna die voorman nooit teruggekeer het nie.

“Die groep was op pad terug toe die voorman agterraak. Die ambagsman het ʼn halfuur vir hom gewag, maar hy het nooit teruggekeer nie. Die twee vakleerlinge het dadelik na hom begin soek, terwyl reddingspanne na die myn ontbied is.”

ʼn Span van ses mynreddingswerkers by Driefontein-myn in Carletonville het by die Kloof-mynskag afgegaan, waar die mynwerkers ure vantevore nog gewerk het. Hulle is kort daarna deur hitte oorval.

“Die hitte was oorweldigend en het die reddingswerkers die een ná die ander getref,” het Scott gesê.

Van die spanlede kon daarin slaag om uit die skag te ontsnap. Peacock en Kolbe was nie so gelukkig nie.

Een van die reddingswerkers is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling, terwyl die res op die toneel gestabiliseer is.

“Die myn het beraders aan die oorblywende reddingswerkers beskikbaar gestel om hulle in dié moeilike tyd by te staan.”

Die bestuur van die myn het intussen die oorledenes se gesinne gaan besoek en hul medelye betuig.

ʼn Ondersoek is ook van stapel gestuur om die presiese omstandighede rakende Peacock en Kolbe se dood te bepaal.

Volgens Scott is Sibanye in die proses om verskeie skagte te verkoel om die soektog na die vermiste mynwerker te vergemaklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gogga ·

Dit is vir my baie hartseer om die berig te lees. Die voorman wat vermis is, is ‘n uiters gawe mens wat altyd gereed is om ‘n grappie te maak en altyd tyd neem om te vra hoe dit met iemand en hulle gesinne gaan. Die gemeenskap hier by ons, is regtig meer as net oorweldig deur die nuus. Kinders by die skool wat die gesinne ken, was self baie hartseer vir hulle maats wie se pappas wat oorlede is. Ek hoop dat die vermiste voorman spoedig gevind sal word sodat sy gesin ook berusting kan vind. Sterkte vir elke persoon, elke proto spanlid, elke gesinslid en vriend wat hierdeur geraak word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.