Ondersoek na vrou se dood sloer jare

Maryka Kleinhans. Foto: Facebook

Die familie van Maryka Kleinhans (31), wat in 2019 dood is nadat sy glo uit ʼn bewegende motor geval of gespring het, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader om seker te maak haar dood word behoorlik ondersoek. Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het ná Kleinhans se dood ’n ondersoek teen ’n polisiebeampte van Mpumalanga van stapel gestuur, maar die ondersoek sloer sedertdien omdat ondersoekers steeds wag vir die uitslae van DNS‑ en bloedtoetsverslae. Intussen worstel die gesin steeds met vrae oor wat daardie noodlottige aand gebeur het.

Kleinhans is die aand van 27 Januarie 2019 dood nadat sy glo uit ʼn motor geval of gespring het naby Loskopdam. Die motor is deur Kleinhans se destydse kêrel en polisieman kapt. Awie Geldenhuys bestuur.

Opod het Geldenhuys na die voorval begin ondersoek. Geldenhuys was ten tye van die voorval verbonde aan die polisie in eMalahleni (Witbank), maar is intussen uit die polisiediens ontslaan. Hy en Kleinhans was vir ’n paar maande in ʼn verhouding.

Teen September 2019 het die ondersoek teen Geldenhuys nie juis gevorder nie omdat Opod glo op die DNS- en bloedtoetsverslae gewag het.

Ná meer as twee jaar staan die saak steeds stil en die familie is moedeloos omdat hulle geen terugvoer van Opod ontvang nie.

Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die familie het hulle gekontak om vuur onder Opod te maak. Hulle het Opod gekontak en gevra waarom die saak so sloer. Hy sê volgens Opod is die DNS- en bloedtoetsverslae steeds uitstaande en kan die dossier nie vir beslissing gestuur word sonder hierdie verslae nie.

“Hierdie is ’n groot probleem omdat die polisiediens al vir ’n geruime tyd met agterstand in DNS-toetse sukkel en intussen staan sake soos dié stil,” het Swanepoel aan Maroela Media gesê.

Swanepoel sê AfriForum het ook ’n skrywe aan Opod gerig om te vra hoe hulle sal voel indien die familie die DNS-toetse privaat laat doen. Hulle het nog geen terugvoer ontvang nie. Opod het ook nog nie op vrae van Maroela Media gereageer nie.

“Ons sal seker maak die ondersoek word behoorlik gedoen. Ons sal ook enige navraag van die familie oor die status van die ondersoek hanteer en die saak gedurig monitor.”

Maroela Media het vroeër berig Geldenhuys het vir die familie gesê hy en Maryka het daardie aand stry gekry waarna sy onverwags by die motor uitgespring het. Volgens hom het sy op die agterste sitplek van die motor gesit. Daar was glo ook ʼn ander storie dat sy naar gevoel en per ongeluk uitgeval het.

Die familie het deur Facebook van Kleinhans se dood te wete gekom en hulle kon nie verstaan waarom Geldenhuys hulle nie self laat weet het nie.

Ná Kleinhans se dood het verskeie vroue ook na vore gekom wat beweer hulle is deur Geldenhuys aangerand of seksueel gemolesteer. Winny Bezuidenhout, Kleinhans se suster, en haar ouers, Johan en Petro Bezuidenhout, was van die begin af gekant teen Maryka se verhouding met Geldenhuys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ES ·

Dis net skokkend dat AfriForum eers genader moet word voordat daar enige konkrete terugvoering gegee word.

Samuel ·

Sterkte aan die familie wat na al die tyd nog geen afsluiting kon kry nie. Die polisiediens is pateties.

lollapot ·

Ongelooflik dat daar nog steeds geen vordering is in Maryke se saak nie. Daar is meer vrae as antwoorde… Sommige mense word net SO gecover, dat ek wil glo hulle is in die Polisie om uit die tronk te bly.
n Grillerige man met n ewe Grillerige geskiedenis. Mag julle antwoorde kry, sterkte en liefde.

Nico ·

Wat is fout met hierdie swak polisie diens, kyk, wanneer ‘n polisie lid vermoor word sal hulle alles doen om die skuldiges vas te trek, wat doen hulle nou, hulle groot idee is om van die dossiere te laat verdwyn. Los die AfriForum uit hierdie saak uit en kry vir Mike Bolhuis om hierdie saak op te los. Sterkte vir die familie.

Korrelkop ·

Wel, daar’s jou antwoord; poliesman het bestuur, poliesman werk vir polisie… duh!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.