Ondersoek na Wes-Kaapse polisie verwelkom

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die Wes-Kaapse polisie-ombudsman het bekend gemaak dat hy gaan ondersoek instel na bewerings dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die provinsie, veral lede van die teenbende-eenheid, hul magte misbruik wanneer hulle hul pligte uitvoer.

Deidré Foster, woordvoerder in die kantoor van die ombudsman, sê die ombudsman het ʼn aantal klagtes van verskillende gemeenskapslede ontvang, asook ʼn klag van Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, nadat Fritz se kantoor soortgelyke klagtes teen lede van die teenbende-eenheid ontvang het.

“Die aard van die klagtes hou verband met die deursoeking van verkeerde woongeriewe, die teistering van onskuldige lede van die gemeenskappe, onaanvaarbare gedrag veral teenoor jeugdiges in openbare ruimtes, asook magsmisbruik deur lede van die teenbende-eenheid.”

Johan Brand, ombudsman van die Wes-Kaapse polisie, het gevolglik aangedui dat hy ʼn volledige ondersoek na dié klagtes gelas het.

(Argieffoto: SA Polisie)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen die ondersoek verwelkom nadat hy verskeie skrywes aan lt.genl. Yolisa Matakata, die Wes-Kaapse kommissaris, rakende die optrede van Wes-Kaapse polisiebeamptes gerig het.

AfriForum het onderskeidelik op 24 Julie en 27 Augustus vanjaar in dié skrywes redes versoek vir die onnodig hardhandige hantering van lede van die toerismebedryf tydens ʼn protesoptog. Polisiebeamptes het die betrokke dag protesgangers met ʼn waterkanon gespuit en met traangas en skokgranate uiteengejaag.

AfriForum het ook op 23 September versoek dat die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, tussenbeide tree nadat die organisasie ʼn niksseggende en uiters onbevredigende antwoord van Matakata ontvang het.

“AfriForum verwelkom Brand se aankondiging. Ons doen ʼn beroep op mense om alle voorvalle van polisie-ongerymdhede of -brutaliteit onverwyld by die Wes-Kaapse ombudsman aan te meld,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Van Dalen sê voorts AfriForum glo steeds dat daar heelwat goeie polisielede is, maar dat hulle deur die “vrot appels” tussen hulle beïnvloed word. “Die onwilligheid van topbestuur om wangedrag van polisielede die hoof te bied, lei daartoe dat lede van die publiek hul vertroue in die SAPD verloor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Ons vertrou hulle al lankal nie! Magsbehep dis wat hulle is behalwe useless verby…

Androclus ·

Hulle moet soms geweld gebruik,want sommige kere is hulle net daar om orde te handhaaf dan word hulle uitgetart en jy kan ook nie sussies tussen skollies in stuur nie,nie veral in die Kaap nie. Dis 50-50 dink ek.My mening nie joune nie
Dankie

Michael ·

Ek stem met jou saam. Ten spyte van die feit dat ek alle respek vir die SAP verloor het, kan jy nie iemand met wolhandskoentjies in Hanover Park instuur nie.

Michael ·

Natuurlik sal daar klagtes teen die teenbende eenheid wees. Hoe dan anders?

Oom Hennie Pennie ·

Hulle word ondersoek omdat hulle hul werk DOEN! Natuurlik sal Wes Kaap onder skoot kom want hulle doen hulle werk!

capie ·

Daar is gevalle wat hulle hardhandig opgetree het in opdrag van seniors ja. Dit moet deeglik ondersoek word. Dan kan jy ook nie vredeliewend optree as jy die Kaapse bendes benader nie. Daar is ‘n klomp wat Malema na ‘n kleuterskool onderwyseres sal laat lyk en natuurlik sal hulle enige strooihalm gebruik om die bende eenheid te diskrediteer. Kyk eerder na seniors wat op die bendes se betaalstaat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.