Ondersoek oor aantygings by kinderhuis afgehandel

‘n Skermskoot uit die video. Die meisies se gesigte word verbloem om hul identiteite te beskerm soos die Kinderwet vereis.

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het amptelik sy ondersoek afgehandel nadat drie meisies onlangs skokkende aantygings oor omstandighede by ʼn bekende kinderhuis in Vereeniging gemaak het.

Drie meisies het op 2 Mei aantygings deur middel van ʼn video-opname op sosiale media oor die Catherine Robson Kinder-en-jeugsorgsentrum versprei.

Maroela Media het vroeër berig die meisies, geklee in hul skoolklere, staan en vertel in Afrikaans in ʼn skynbaar ligte luim hulle is inwoners van dié kinderhuis.

Hulle verskaf hul name en ouderdomme terwyl die stem van ʼn vrou in die agtergrond gehoor kan word en sy vir hulle vrae vra. Die meisies vertel dat hulle een aand sonder kos buite die kinderhuis moes slaap. Hulle beweer ander kinders het hulle “deur die tralies” probeer kos gee en dat dié kinders toe ook gestraf is.

Hulle beweer verder niemand is gelukkig daar nie en die huismoeders vloek en slaan hulle glo. Hulle sê hul kos word glo in vuil kastrolle voorberei en dat hulle al miere, kakkerlakke, staalwol en proppe in hul kos gekry het.

Die skynbare doel van die video was om die aandag van die “minister van gesondheid en welsyn” te trek om daar besoek af te lê.

Danie Krüger, bestuurder van die sentrum, het onmiddellik nadat die video aan die lig gekom het, die voorval by die provinsie se departement van maatskaplike ontwikkeling aangemeld vir ʼn onafhanklike ondersoek.

Die departement het vandeesweek die ondersoek afgehandel en tot die slotsom gekom dat die bewerings vals is en dat dit onder aanhitsing van een van die meisies se ma gemaak is.

Die departement het ook ʼn afskrif van die bevinding aan Maroela Media verskaf.

Die ma het reeds ʼn erkenning in hierdie verband gemaak en ʼn verklaring in ʼn plaaslike gemeenskapskoerant en op sosiale media geplaas.

“Stawende getuienis is tydens die ondersoek aan die beamptes voorgelê ter bevestiging dat die betrokke kinders hulle reeds vir ʼn geruime tyd aan onaanvaarbare en onbeheerbare gedrag skuldig gemaak het, wat die ander kinders in die sentrum nadelig geraak het,” het Krüger aan Maroela Media gesê.

“Die twee oudste meisies was reeds in die proses om ná hul 18de verjaardag, albei in Mei, in die sorg van hul ouers uitgeplaas te word. Die besluit het in oorlegpleging met alle belanghebbendes plaasgevind. Die betrokke meisies het ook geweier om, in ooreenstemming met die bepalings van die Kinderwet, skriftelik in te stem om ná hul 18de verjaardag in die sentrum aan te bly. Die 16-jarige meisie wat by die voorval betrokke was, is steeds in die sorg van die sentrum.”

Die bestuur van die sentrum het sy tevredenheid uitgespreek dat die verslag geen onreëlmatighede aan die kinder-en-jeugsorgsentrum se kant uitgewys het nie. Die lede betreur egter die uiters negatiewe effek wat deur die “kwaadwillige beswaddering op sosiale media” veroorsaak is.

“Soos talle ander welsynsorganisasies verkeer hierdie sentrum reeds onder finansiële druk en is grootliks van skenkings en geldinsamelings afhanklik. Sodanige aantygings veroorsaak onberekenbare skade – nie net vir die kinder-en-jeugsorgsentrum nie, maar ook vir die personeel, bestuur en ander kinders wat geen ander heenkome het nie.”

Krüger het gesê by Catherine Robson word daarna gestreef om aan elkeen van die kinders wat deur die Kinderhof in hul sorg geplaas is, die bes moontlike verblyf en terapeutiese sorg te gee. “ʼn Ernstige beroep word dus op lesers gedoen om aantygings of fopnuus van hierdie sensasionele aard onmiddellik aan te meld, dit nie verder te versprei nie en die valsheid van sodanige berigte onder die publiek se aandag te bring,” het hy afgesluit.

Die Catherine Robson Kinder-en-jeugsorgsentrum is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie wat aan die NG Kerk behoort. Die tehuis het gedurende die 1950’s tot stand gekom om wees- en sorgbehoewende kinders tussen vier en 17 jaar oud in te neem en te versorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Annette Stander ·

Die ma wat betrokke was behoort aangekla te word. Hoekom is haar kind in die kinderhuis? Omdat sy onbevoeg is?

E.K. ·

Annette: ja, sy help die juffroutjies om die plek sleg te maak maar sy self is, om watter rede ookal, nie bevoeg om self na haar kind te kyk nie, maar dan stook sy kwaad. Hierdie tipe onsin en het oneindig baie onnodige skade aangerig aan kinderhuise. Waar sou sulkes opeindig was dit nie vir plekke soos hierdie; en dan is dit hoe hul dankie sê. Ek is al ‘n paar jaar by ‘n kidnerhuis in Modimolle betrokke en daar is niks meer volvullend as om betrokke te wees by gebroke kinders nie. Ek weet ook presies hoe dit daar gaan en onder watter moeilike omstandighede sulke plekke probeer om kop bo water te hou en “fully rounded” kinders uiteindelik die lewe in te stuur. Hierdie klomp moet hulle absoluut skaam om sulke nonsens kwyt te geraak het. Enigeen met meer as twee breinselle sou in elk geval kon redeneer dat veral die kalgtes oor die sg vuilgeid in die kos darem heeltemal te dik vir ‘n daalder klink. Skande!

chris ·

Gerugte doen ook die rondte dat geen een van die NG Kerke in die streek meer daar betrokke is nie.Sal graag bevestiging wou kry

Johann du Toit ·

Die verlede is verby. Jy skep self jou toekoms. Ek sien geen toekoms vir die ma of meisies nie.

Wouter ·

Waar daar n rokie trek brand dit alreeds. Nog n semi staats instelling?

Frik ·

Wouter hou jy daarvan om sulke negatiewe en afbrekende dinge te sê? Kyk na die feite vsn die saak en jou skimpe vir jouself. Die betrokke kinderhuis doen al jare wonderlike werk met kinders wat daar geplaas id.

Elna ·

Wouter, wanneer laas of laat ek eerder vra, was jy al by n kinderhuis? Die huismoeders doen wonderlike werk en is engele uit die hemel. Ek weet want ek is gasouer by 2 kinderhuise. Raak bietjie betrokke dan kan jy dalk jou mening lug!

pieter enslin ·

Wouter, het jy ‘n oogprobleem of is daar fout met jou waarnemingsvermoë?
Lees die berig ten volle…dalk skyn daar ‘n lig.

Big daddy ·

Ja nee die ma is tipies afrikaner. Gou om liegstories te versprei as die waarheid en as hulle uitgevang word is hulle so so so jammer.

Pieter Ellis ·

Jitte Big Daddy en Elsie. Dit is darem n erge veralgemening wat julle nou kwytraak. Of is alle Big Daddy’s en Elsies liegbekke?

Manna ·

Wat het jy teen Afrikaners ? As jy nie iets positiefs kan sê hou liewer jou mond. Amper sê ek bek.

E.K. - ek sê net!(alweer!) ·

Hou nou op om mekaar hier aan te val en veroordeel liewer hierdie onnodige vieslike leuens. As mense te sleg is om hul eie kinders groot te maak beter hulle elke dag op hul knieë gaan en dankie sê vir instansies soos hierdie waar kinders dakke oor hul koppe het, 3 etes kry en daar toegesien word dat die kind skool toe gaan. As hierdie kinders NOU al so lieg en bedrieg wat lê vir hul voor? En die ma? Dis die voorbeeld wat sy aan haar kinders stel: ek kan jou nie versorg en nou help ek jou om die wat dit doen se name deur die modder te sleep!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.