Ondersoek oor Afrikaans by Maties verwelkom

Die MRK begin Maandag met sy ondersoek by die Universiteit Stellenbosch. (Foto: US)

Die DA het ʼn ondersoek deur die Menseregtekommissie (MRK) na die “voortgesette diskriminasie” teen Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch (US) verwelkom.

Die MRK het vandeesweek bevestig hy begin Maandag met sy ondersoek.

ʼn Herrie het vroeër losgebars nadat studente glo verbied is om Afrikaans in private ruimtes, waaronder koshuise, slaapkamers, op digitale platforms en selfs op parkbanke voor die koshuise, te praat.

Die DA het die klag by die MRK aanhangig gemaak.

“Op grond van die DA se klag gaan die MRK nou die mate ondersoek waartoe die US se diskriminerende optrede Afrikaanssprekende studente se regte op gelykheid op grond van taal en ras of op enige ander ongrondwetlike wyse geskend het,” sê dr. Leon Schreiber, DA-kiesafdelingshoof vir Stellenbosch.

“Die ondersoek van die MRK kom op die regte tyd aangesien volgehoue klagtes aan die universiteitsbestuur – en spesifiek aan rektor Wim de Villiers – aanhoudend op dowe ore val.”

Schreiber sê De Villiers se “moedswillige swyging” gaan eindig wanneer die MRK met sy ondersoek begin.

Volgens die MRK gaan De Villiers gevra word om oor die kwessie te getuig en sal ander geraakte partye ook genooi word om voorleggings te doen.

“Die ondersoek gaan die omvang van die skending van verskillende menseregte, waaronder die reg op gelykheid op grond van taal en ras of op enige ander gronde in die omstandighede, ondersoek.”

Schreiber sê die DA sal self by die verhoor teenwoordig wees om De Villiers se getuienis te monitor.

“Ons sien voorts ook daarna uit om self te getuig en om Afrikaanse studente op hul beurt te help om húl stem te laat hoor.”

Schreiber sê dit is ook ʼn gulde geleentheid vir die MRK om die rol van die universiteit se 2016-taalbeleid te ondersoek, aangesien dié beleid amptelik aan Afrikaans ʼn mindere status as onderrigtaal toegeken het. Hy sê dit is die 2016-beleid se weiering om aan Afrikaans gelyke status naas Engels te gee wat die atmosfeer geskep het vir die diskriminasie teenoor Afrikaanssprekende studente.

Hy sê moedertaalonderrig is van uiterste belang vir die sukses van studente. Dit is ook die grondwetlike reg van alle Suid-Afrikaners om hulself in hul moedertaal uit te druk en onderrig in die taal van hul keuse te ontvang.

Die onderwysvakbond SAOU het op sy beurt gesê die US se onlangse hersiening van sy taalbeleid en ander verwante voorvalle het die taaldebat weereens skerp in die soeklig geplaas.

Die SAOU sê ʼn organisasie se beleid is boonop net so goed as die inwerkingstelling daarvan.

“Daarom is dit duidelik dat ʼn beleid van weinig waarde is as diegene wat belas word met die inwerkingstelling daarvan doelbewus of onwetend die beleid verkeerd interpreteer en uiteindelik die beginsels soos vervat in die beleid sélf oortree,” sê Stephan van den Berg, woordvoerder van die SAOU.

“Sulke ‘verkeerde interpretasies’ moet aan die kaak gestel en onomwonde gekorrigeer word ten einde nie die geloofwaardigheid van die beleid te ondergrawe nie. In dié verband is dit belangrik dat die universiteit dit onomwonde stel dat studente toegelaat sal word om in koshuise in die taal van hul keuse te kan kommunikeer en sosiaal verkeer.”

Van den Berg sê inklusiwiteit kan nie deur uitsluiting bereik word nie.

“Al sou dit maklik wees om ander tale ter wille van inklusiwiteit te belet, kan ʼn mens eenvoudig nie die stelselmatige uitsluiting van Afrikaans aanvaar of regverdig nie. Afrikaanse leerders was en is steeds ʼn baie belangrike bron van studente vir die universiteit.

“SAOU-lede, skole, leerders en ouers sal ʼn onomwonde reaksie van die universiteit in dié opsig waardeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Omtrent tyd maar dan het die MRK ook die Eben Etzebeth saak ondersoek en ons weet hoe daai ondersoek verloop het. Hou nie asem op nie want MRK is self rassisties.

KB ·

Die rektor se swyging oor hierdie diskriminasie herinner onomwonde aan die Zuma-saak, Ace Magashule-saak en die ANC se algemene stilswye oor sensitiewe sake. Dit is ‘n siekte deesdae, en die uitkoms mag (onnodiglik) hare kry.
Mens dink terug aan die woorde van CJ Langenhoven:
“Gee my ‘n man wat sê wat waar is, as die duiwel daar is,
Wat doen wat reg is, as die regter weg is,
Wat trou by sy gewete bly, as hy straf in plaas van beloning kry”.
…en ‘n mens kry skaam vir jou medemens…

jzjz05 ·

Met die tyd het afrikaans spreekende mense maar min vertroue in die MRK en nog minder in die rektor Wim de Villiers van die US.Maar laat ons nou maar kyk of hulle ons denke van hulle kan verander in die ondersoek.

Frans ·

Iets wat vir my treffend is, is hoe verskillend hierdie aangeleentheid deur die SU-bestuur hanteer word. D.w.s., in vergelyking met die sogenaamde ‘black face’ aangeleentheid in 2016. Op die ou einde het dit in daardie geval duidelik geword, dat daar geen sprake van ‘black face’ was nie. Die dames het eintlik hulle ligame en gesigte pers geverf het vir ‘n Loeloeraaitema, toe hulle ‘n partytjie by die Heemstede koshuis bygewoon het. Hier is ‘n skakel na ‘n destydse artikel wat die aangeleentheid verduidelik:

https://www.news24.com/News24/blackface-incident-was-actually-purple-face-stellenbosch-students-20160208

Nie te min was die SU-bestuur totaal op hol, die betrokke studente is tydelik geskors, professor De Villiers het briewe uitgestuur, sak en as, en so aan, en so meer. Die hele katastofe. Alles vir mahala. Geen wonder hy is deesdae so stil nie.

Daar’s ‘n spreuk wat in my agterkop draai, iets oor ‘n stil bek, maar dit ontglip my, miskien kan ons taalfundis my uithelp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.